Bybelvertaling Bylae A

Bylae A

 

Lys van weglatings en verdraaiings in die nuwe vertaling

 

Boodskap van die Basuin;  Augustus 1994

deur prof J S Malan

In die meer as tien jaar sedert die Nuwe Afrikaanse Bybel (NAB) deur die Bybelgenootskap vrygestel is, het ‘n ongelooflike lang lys van vertaalfoute, verdraaiings, afgewaterde stellings en weglatings aan die lig gekom. Hierdie foute kan gedeeltelik herlei word na die grondteks wat gebruik is, en andersyds na die vrye vertalingsmetode, die dinamies-ekwivalente metode, wat gebruik is. Die vertalers het hulleself soveel vryhede veroorloof dat hulle in terme van hulle eie teologiese raamwerk eksegeties vertaal het.‘n Doelbewuste poging is ook aangewend om Ou Testamentiese messiaanse profesieë sò te verdraai dat die leser nie moet agterkom dat dit op die Here Jesus dui nie.

Indien hierdie vertaling as ‘n parafrase bemark is, sou dit nader aan die waarheid gewees het. Om dit egter ten spyte van die vrysinnige vertaling, weglatings en subjektiewe veranderings nog steeds DIE BYBEL te noem, is aanmatigend om die minste te sê.

Die Here sê duidelik: “Julle mag by die woord wat Ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat Ek julle beveel” (Deut. 4:2).

‘n Aantal van die belangrikste verskille tussen die ou vertaling (1933 soos in 1953 hersien) en die nuwe vertaling word nou aangetoon:

& Gen 43:34

Ou Vertaling: “Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan… En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.”

Nuwe Vertaling: “Elkeen se kos is van Josef se tafel af aangegee… Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword.”

& Ps 22:17

Ou Vertaling: “…‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.”

Nuwe Vertaling: “Die bende kwaaddoeners sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas.”

Kommentaar: Hierdie is ‘n messiaanse profesie wat op die kruisiging dui. Jesus se hande en voete is nie vasgebind nie, maar deurgrawe.

& Jes 7:14

Ou Vertaling: “Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.”

Nuwe Vertaling: “Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”

Kommentaar: Dit is ‘n teken (‘n wonderwerk) as ‘n maagd swanger raak, maar nie as ‘n jong vrou swanger raak nie. Die Nuwe Vertaling skram doelbewus van ‘n konnotasie met Matt 1:23 weg.

& Dan 7:13

Ou Vertaling: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens…”

Nuwe Vertaling: “My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese.”

Kommentaar: Die titel die Seun van die mens kom hier die eerste keer in die Bybel voor, en dui onmiskenbaar op Jesus. Die Nuwe Vertaling verdraai dié titel sò dat niemand dit kan herken nie.

& Sag 12:10

Ou Vertaling: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het.”

Nuwe Vertaling: “Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het.”

Kommentaar: In Sagaria sê die Here dat Hy die Heilige Gees, die Gees van genade en smekinge net voor die eindtydse koms van die Messias oor Israel sal uitstort sodat hulle Hom aan sy deurboorde hande en voete sal kan uitken en na Hom kan opsien vir redding. Die Nuwe Vertaling maak hiervan net ‘n humanistiese gees van welwillendheid wat onder mense vaardig sal word. Weereens skryf hulle die Messias uit die Ou Testament en verwys nie na My vir wie hulle deurboor het nie, maar na hom vir wie hulle doodgesteek het. Jesus is nie doodgesteek aan die kruis nie, maar het self sy lewe afgelê.

& Miga 5:1

Ou Vertaling: “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.”

Nuwe Vertaling: “Maar jy, Bethlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede.”

Kommentaar: Volgens hierdie weergawe bestaan die Messias nie van alle ewigheid af nie, en is sy begin iewers in die gryse verlede. Weer eens wil die vertaler nie hê dat Jesus hierin gesien moet word nie. Volgens Matt. 2:6 en Joh 7:42 is Miga 5:2 egter onteenseglik ‘n messiaanse profesie.

& Verder OT veranderings

Bogenoemde is slegs enkele voorbeelde uit die Ou Testament. Oral is pogings aangewend om die Messiaanse profesieë te versluier. ‘n Baie algemene metode is bv om die persoonlike naamwoorde en voornaamwoorde wat op Jesus dui, in die Nuwe Vertaling met ‘n kleinletter te skryf. Vgl bv Jes 49:1-7, Jes 53 1–12 en Jes 61:1.

‘n Paar ander ‘regstellings’ is ook gemaak, bv in Prediker 10:2:Die Ou Vertaling sê ”Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van die dwaas is na links.” Die Nuwe Vertaling sê: “Die verstand van die een wat wysheid het, gee hom krag, maar dié van ‘n dwaas maak hom swak.” Dit is nòg ‘n verdraaiing!

 

Nuwe Testament

Die aanslag van die vertalers het ernstige skade aan die Nuwe Testament berokken. Ek beskik oor ‘n lys van 256 veranderings, verdraaiings en weglatings. Dit is nie eers naastenby almal nie. In Handelinge is die woord dissipel etlike kere met gelowiges vertaal. Vergelyk byvoorbeeld Hand 6:1 en 7. In Paulus se briewe is die woord heiliges met gelowiges of met gemeente vertaal. Telkens kom dit op ‘n verlaging in standaarde neer, afgesien van die feit dat dit grammaties foutiewe weergawes van die oorspronklike terme is. Wat die weglatings van tekste betref, is dit opvallend dat die betrokke teksnommers in die Nuwe vertaling verskyn, maar niks daarna nie. Indien mens die tekste met hoog aangeskrewe Engelse vertalings soos die King James Version vergelyk, dan word die tekste as outentiek en deel van die Heilige Skrif beskou – in die Nuwe Vertaling is hulle egter uitgelaat.

Die volgende is van die belangrikste veranderings en weglatings in die Nuwe Testament van die Nuwe Vertaling. (Klik op 'n boek om dit oop te maak):

  • Mattheus

    • 1:25 (Eersgeborene) is uitgelaat.
    • 5:44 (seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat julle haat) is uitgelaat.
    • 6:13 (want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid, Amen) is uitgelaat uit die Onse Vader.
    • 6:27 een el by sy lengte voeg is verander na een enkele uur by sy lewe voeg.
    • 8:29, 14:14, 14:25, 15:30, 17:11, 17:20, 18:2, 24:2 (Jesus) is uitgelaat.
    • 9:13 (tot bekering) is uitgelaat.
    • 13:51 (Jesus – Here) is uitgelaat.
    • 15:8 (nader My met hulle mond) is uitgelaat.
    • 16:3 (geveinsdes) is uitgelaat.
    • 17:21 VERS UITGELAAT. (Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie).
    • 18:11 VERS UITGELAAT. (Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is).
    • 19:9 (en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbruik) is uitgelaat; en hoerery is verander na owerspel.
    • 20:16 (want baie is geroep maar min uitverkies) is uitgelaat.
    • 20:22 (en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word) is uitgelaat.
    • 21:12 (van God) is uitgelaat.
    • 23:8 (Christus) is uitgelaat.
    • 23:14 VERS UITGELAAT. (Wee julle skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang).
    • 25:13 (waarop die Seun van die mens kom nie) is uitgelaat.
    • 27:35 (sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp) is uitgelaat. In die Ou Vertaling is die kruisverwysing na Psalm 22:19.
    • 28:6 Hy is uit die dood opgewek. Dit is nog ‘n poging om Jesus se Godheid te ontken. (Here) is ook uitgelaat.
    • 28:7 Hy het opgestaan uit die dode is verander na Hy is uit die dood opgewek. Kyk Joh. 10:17-18.
    • 28:9 (en terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel) is uitgelaat.

     

  • Markus

    • 2:17 (tot bekering) is uitgelaat.
    • 5:13, 7:27 (Jesus) is uitgelaat
    • 6:11 (Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad) is uitgelaat.
    • 6:33 Hom is verander na hulle - (by Hom vergader) is uitgelaat.
    • 7:16 VERS UITGELAAT. (As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor).
    • 9:24 (Here) is uitgelaat.
    • 9:44, 9:46 VERS UITGELAAT. (waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie).
    • 9:49 (en elke offerhande sal met sout gesout word) is uitgelaat.
    • 10:21 (neem die kruis op) is uitgelaat.
    • 10:24 (vir die wat op hulle goed vertrou) is uitgelaat.
    • 11:10 (in die Naam van die Here) is uitgelaat.
    • 11:26 VERS UITGELAAT. (Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie).
    • 13:14 (waarvan gespreek is deur die profeet Daniël) is uitgelaat.
    • 13:33 waak en bid is verander na wees waaksaam.
    • 15:28 VERS UITGELAAT. (en die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken).
    • 16:9-20 In ‘n voetnota word dié deel as ‘n latere byvoeging beskou.

     

  • Lukas

    • 1:28 (geseënd is jy onder die vroue) is uitgelaat.
    • 2:33 Josef is verander na Sy vader. Let op die implikasie.
    • 2:40 (in die Gees) is uitgelaat.
    • 2:43 Josef en sy moeder is verander na sy ouers.
    • 4:4 (maar van elke woord van God) is uitgelaat.
    • 4:8 (gaan weg agter my Satan) is uitgelaat.
    • 4:18 (om die wat verbryseld van hart is te genees) is uitgelaat.
    • 4:41 (die Christus) is uitgelaat.
    • 6:48 sy fondament was op die rots is verander na die huis was goed gebou.
    • 7:22 (Jesus) is uitgelaat.
    • 9:54 (Soos Elia ook gedoen het) is uitgelaat.
    • 9:55 (en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie) is uitgelaat.
    • 9:56 (want die Seun van die mens het nie gekom om die mens se lewe te verderf nie, maar te red) is uitgelaat.
    • 9:57 (Here) is uitgelaat.
    • 11:2 (Onse …. wat in die hemele is …. laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde) is uitgelaat.
    • 11:4 (maar verlos ons van die bose) is uitgelaat.
    • 11:29 (die profeet) is uitgelaat.
    • 12:31 (God) is uitgelaat.
    • 13:25 (Here) is uitgelaat.
    • 17:36 VERS UITGELAAT. (Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word).
    • 21:36 ontvlug is verander na behoue deurkom. In hierdie teks is die belofte van die wegraping heeltemal uit die Bybel uitvertaal.
    • Hierdie is ‘n doelbewuste fout wat gemaak is, want die vertalers kan geensins agter onkunde skuil oor die betekenis van die Griekse woord ekfeugo nie. In Hand 16:27 vertaal hulle dit as ontsnap, in Hand 19:16 as gevlug, en in 1 Thess 5:3 as ontkom.
    • In Lukas 21:36 moet die betekenis egter omgekeer word omdat ons geleerde vriende nie glo dat die Here sy kinders voor die verdrukking kom haal nie! Ons moet deur dit gaan!
    • 22:64 (en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra) is uitgelaat.
    • 23:17 VERS UITGELAAT. (En hy was verplig om vir hulle op die fees een los te laat).
    • 24:6 Hy het opgestaan is verander na Hy is uit die dood opgewek.
    • 24:49 (Jerusalem) is uitgelaat.

     

  • Johannes

    • 1:14 en 18 eniggeborene is verander na enigste.
    • 1:27 (wat voor my geword het) is uitgelaat.
    • 3:15 (nie verlore mag gaan nie) is uitgelaat.
    • 4:42 (die Christus) is uitgelaat.
    • 5:3 (wat op die roering van die water gewag het) is uitgelaat.
    • 5:4 VERS UITGELAAT. (…want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan na die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het). Die antwoord van die sieke in vers 7 is bewys daarvan dat die weglatings van verse 3 en 4 foutief is.
    • 16:16 (omdat Ek na die Vader gaan) is uitgelaat. Kon die vertalers nie hier sien dat hulle met ‘n valse manuskrip te doen het nie? Die dissipels doen dan aan die einde van vers 17 navraag oor Jesus se woorde: “Ek gaan na die Vader.”

  • Handelinge (van die Here)

    • 3:26 Sy Kind Jesus is verander na sy Dienaar.
    • 4:24 Here, U is die God is verander na Here dit is U.
    • 7:30 (van die Here) is uitgelaat. Engele van die Here in die Ou Vertaling met hoofletters wys duidelik op Jesus Christus.
    • 7:37 (na Hom moet julle luister) is uitgelaat.
    • 8:37 VERS UITGELAAT. (Toe sê Fillipus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus die Christus die Seun van God is).
    • 9:5 (dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop) is uitgelaat. Kyk Hand 26:14.
    • 9:6 (en terwyl hy bewe en verbaas was sê hy: Here wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom:) is uitgelaat. Die vervalsing hier is ook duidelik in die lig van Hand 22:10.
    • 10:6 (Hy sal jou sê wat jy moet doen) is uitgelaat.
    • 15:11, 16:31 en 19:4 (Christus) is uitgelaat.
    • 15:18 Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend is verander na Dit is van ouds af bekend.
    • 19:10 (Jesus) is uitgelaat.
    • 20:28 Wat Hy deur sy eie bloed verkry het, is verander na wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. Let weer op die implikasie.
    • 22:16 (Here) is uitgelaat.
    • 23:9 (Laat ons nie teen God stry nie) is uitgelaat.
    • 24:7 VERS UITGELAAT. (maar Lisias die owerste oor duisend het gekom en hom met groot geweld uit ons hande geneem).
    • 24:8 (en bevel gegee dat sy beskuldigers voor u moet kom) is uitgelaat.
    • 28:29 VERS UITGELAAT. (En toe hy dit gesê het, het die Jode onder groot woordestryd met mekaar weggegaan).

     

  • Romeine

    • 1:16 (van Christus) is uitgelaat.
    • 1:19-31 (hoerery) is uitgelaat. Daar word duidelik gepoog om die uitspraak vir die leser te versag.
    • 6:11 (onse Here) is uitgelaat.
    • 8:1 (vir die wat nie uit die vlees wandel nie, maar na die Gees) is uitgelaat. Hierdeur word die eis tot heiligmaking verswyg.
    • 9:28 (in geregtigheid) is uitgelaat.
    • 10:15 (van die wat die evangelie van vrede verkondig) is uitgelaat.
    • 11:6 (en as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie) is uitgelaat.
    • 13:9 (jy mag geen valse getuinis gee nie) is uitgelaat.
    • 14:6 (en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here) is uitgelaat.
    • 14:21 (waardeur jou broer aanstoot neem – of waarin hy swak is nie) is uitgelaat.
    • 15:8 (Jesus) is uitgelaat.
    • 15:29 (van die evangelie) is uitgelaat.
    • 16:24 VERS UITGELAAT. (Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen).

     

  • 1 Korinthiërs

    • 5:4, 9:1, 9:18, 16:23 (Christus) is uitgelaat.
    • 6:20 (duur…en in julle gees wat aan God behoort) is uitgelaat.
    • 10:28 (want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan) is uitgelaat.
    • 15:8 …en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene is verander na Heel laaste het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn.
    • Paulus se verwysing na homself as die ontydig geborene kan geensins as ‘n misgeboorte vertaal word nie. Hy verwys hier na die tyd van sy geboorte (as Christen, maw sy wedergeboorte) en nie na die aard daarvan nie. ‘n Misgeboorte is ‘n miskraam.
    • 15:47 (die Here) is uitgelaat.
    • 16:22 (Jesus Christus) is uitgelaat.
  • 2 Korinthiërs

    • 4:10 (Here) is uitgelaat.
    • 5:18 (Jesus) is uitgelaat.
    • 10:7 en 11:31 (Christus) is uitgelaat.
    • 11:31 (onse) is uitgelaat.

     

  • Galasiërs

    • 3:1 (om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie) is uitgelaat. Dit verander die betekenis van die teks.
    • 3:17 (in Christus) is uitgelaat. Die teks is nou heeltemal verdraaid.
    • 4:7 (deur Christus) is uitgelaat.
    • 6:15 (in Christus Jesus) is uitgelaat.
    • 6:17 (die Here) is uitgelaat. …in my liggaam is verander na …aan my liggaam.

     

  • Efesiërs

    • 3:9 (deur Jesus Christus) is uitgelaat.
    • 3:14 (van onse Here Jesus Christus) is uitgelaat.
    • 5:30 (van sy vlees en van sy bene) is uitgelaat.
    • 6:1 (in die Here) is uitgelaat.
    • 6:10 (my broeders) is uitgelaat.

     

  • Fillipense

    • 2:16 …deurdat julle die woord van die lewe vashou is verander na …deur die woord van die lewe uit te dra. Lees vers 14 tot 16 om die verband van die verandering in betekenis te kan sien.
    • 3:16 (laat ons eensgesind wees) is uitgelaat.
    • 4:13 (Christus) is uitgelaat.

     

  • Kolossense

    • 1:2 (en die Here Jesus Christus) is uitgelaat.
    • 1:14 (deur sy bloed) is uitgelaat. Hier word die bloed van Jesus uit die verlossingsplan weggelaat. Waarom?
    • 1:28 (Jesus) is uitgelaat
    • 3:6 …kinders van die ongehoorsaamheid is verander na …mense wat aan Hom ongehoorsaam is.

     

  • Thessalonicense

    • 1:1 (van God onse Vader en die Here Jesus Christus) is uitgelaat.
    • 2:19, 3:11, 3:13, en 2 Thess 1:12 (Christus) is uitgelaat

     

  • 1 Timotheus

    • 1:1 en 5:21 (Here) is uitgelaat.
    • 1:17 …alleenwyse God is verander na …enigste God.
    • 2:7 (in Christus) is uitgelaat.
    • 3:16 God is geopenbaar in die vlees is verander na as mens het Jesus in die wêreld gekom. Hierdie teks oor die Here Jesus se Godheid is so verander dat dit sy grondbetekenis verloor het.
    • 4:12 (in gees) is uitgelaat.
    • 5:21 (Here) is uitgelaat
    • 6:5 (onttrek jou aan sulke mense) is uitgelaat. Was hierdie opdrag vir die vertalers onaanvaarbaar?

     

  • 2 Timotheus

    • 1:11 (van die heidene) is uitgelaat.
    • 4:1 (Die Here) is uitgelaat.
    • 4:22 (Jesus Christus) is uitgelaat.

     

  • Titus & Filemon

    • Titus 1:4 (die Here) is uitgelaat.
    • Filemon v 6 (Jesus) is uitgelaat.
    • Filemon v 12 (maar neem jy hom) is uitgelaat.

     

  • Hebreërs

    • 1:3 (deur Homself) is uitgelaat.
    • 2:7 (en hom oor die werke van u hande aangestel) is uitgelaat. U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak is verander na U het hom ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak.
    • 3:1 (Christus) is uitgelaat.
    • 7:21 (volgens die orde van Melgisedek) is uitgelaat. U is is verander na Jy is.
    • 10:9 (o God) is uitgelaat.
    • 10:29 Onrein geag is verander na geminag. Dit verander die betekenis.
    • 10:30 (spreek die Here) is uitgelaat.
    • 10:34 (in die hemele) is uitgelaat.

     

  • Petrus

    • 1:22 (siele deur die Gees) is uitgelaat.
    • 4:1 (vir ons) is uitgelaat. Die vers is nou vir ‘n verkeerde vertolking oop.
    • 4:14 (wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik) is uitgelaat.
    • 5:11 (die heerlikheid … alle) is uitgelaat. Dit verander die teks en water die trefkrag daarvan af.
    • 5:14 (Jesus) is uitgelaat.
    • 2 Pet 2:17 (vir ewig) is uitgelaat.

     

  • 1 Johannes

    • 1:17 (Christus) is uitgelaat.
    • 2:17 (van die begin af) is uitgelaat.
    • 4:3 (Christus is die vlees) is uitgelaat.
    • 4:9 …eniggeborene is verander na enigste.
    • 4:19 (Hom) is uitgelaat. Dit verander die betekenis.
    • 5:17 “Want daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.”
    • Hierdie kernteks oor die Godheid van Jesus as die vleesgeworde Woord, asook oor die Drie-eenheidsleer, is drasties verander en kortgeknip na: “Daar is dus drie wat getuig.” Daar het feitlik niks van die teks se oorspronklike betekenis oorgebly nie, en in die Nuwe Vertaling is 1 Joh 5:7 nou presies net soos wat dit in die verdraaide Bybel van die Jehovasgetuies voorkom. Uiteraard hulle baie bly hieroor omdat hulle die Godheid van Jesus loën.
    • 5:8 (en daar is die wat getuig op die aarde) is uitgelaat om die huidige en die voorafgaande teks nog meer kragteloos en betekenisloos te maak.
    • 5:13 (die Naam van) is twee maal uitgelaat. Hierdie teks oor geloofsekerheid is ook kortgeknip en van baie van sy betekenis beroof.

     

  • Openbaring

    • 1:8 (die begin en die einde) is uitgelaat.
    • 1:9 (Christus) is twee maal uitgelaat.
    • 1:11 (Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste) is uitgelaat.
    • 2:13 (Ek ken jou werke) is uitgelaat.
    • 5:14 (vier en twintig) is uitgelaat. (wat lewe tot in alle ewigheid) is in die laaste gedeelte van die vers uitgelaat.
    • 8:13 …engel is verander na …arend.
    • 11:17 (en wat kom) is uitgelaat, waarskynlik omdat dit na die wederkoms van Jesus Christus verwys.
    • 12:17 (Christus) is uitgelaat.
    • 14:5 (voor die troon van God) is uitgelaat.
    • 14:20 …tweehonderd myl is verander na …sestienhonderd kilometer. In hierdie teks eis die eiesinnige eksegetiese vertaling van vergeestelikingsteoloë ‘n groot tol. In die grondteks word na 1600 stadia verwys. ‘n Stadion is 200 meter (200 treë). Die werklike afstand is dus 200 myl of 320 kilometer. Die vertalers het besluit om bloot die stadia na kilometer te verander “aangesien Openbaring in elk geval ‘n simboliese boek is en dit nie letterlik opgeneem moet word nie.” Hoe die bloed vir 1600 kilometer in die vallei van Megiddo kan vloei, sal net hulle weet. Dit is onmoontlik.
    • 16:5 (Here) is uitgelaat.
    • 16:17 (van die hemel) is uitgelaat.
    • 20:9 en 12 (God) is uitgelaat.
    • 21:16 Dieselfde growwe berekeningsfout as dié in Open. 14:20 is hier gemaak. Dit beteken dat die nuwe Jerusalem ‘n omtrek van 48 000 kilometer het, terwyl die aarde se omtrek 40 000 kilometer is. Hierdie stad moet op die nuwe aarde rus, maar dit lyk nou of dit die aarde gaan verswelg. Die werklike omtrek van die nuwe Jerusalem is volgens die Bybel egter 1 500 myl (2 400 kilometer) aan elke kant, en dus in totaal 9 600 kilometer rondom. Die vertalers se optelsom is dus byna 40 duisend kilometer uit! Dit is simptomaties van die baie ander mistastinge in hulle vertalingsoefening.
    • 21:24 (van die wat gered word) is uitgelaat.
    • 22:21 (Christus) is uitgelaat.

     

 

HOUDING TEN OPSIGTE VAN DIE NUWE VERTALING

Dit is baie duidelik dat fundamentele Christene nie die nuwe vertaling as die Woord van God kan aanvaar nie. Daar is heeltemal te veel menslike foute, vertolkings en weglatings wat met voorbedagte rade deel van die vertalingstragegie gevorm het.

Ons glo aan die goddelike inspirasie, onfeilbaarheid en onveranderlikheid van die Bybel as die Woord van God. Dit moet in sy letterlike, grammaties-historiese grondbetekenis eerbiedig word, en is nie ‘n speelbal vir teoloë wat allerlei nuwe idees het nie. Hoe definieer die Bybel homself?

Dit is nie menslik in oorsprong nie, maar die Woord van God:

“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortegebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek" (2 Pet 1:19-21)

Jesus is die vleesgeworde Woord deur wie God aan ons geopenbaar is (Joh 1:1-14). Sy woorde, wat in die Bybel opgeteken is, is gees en lewe (Joh. 6:63).

& God is die outeur van die Bybel: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim 3:16).

Hoofkeuselys | Lys van geraadpleegde bronne | Desiderius Erasmus