Bybelvertaling Deel 1

Deel 1

 

Daar was ‘n Man ...

.

Lank gelede, in die gryse verlede 1), was daar ‘n man. Hy was, soos ons kan aflei, ‘n gewone mens net soos ek en jy. Hierdie man is gebore in die land Palestina wat destyds onder Romeinse beheer was. Sy geboorte het skynbaar plaasgevind in ‘n stal in die klein dorpie Bethlehem wat vandag deur die Palestynse owerheid bestuur word. Na sy geboorte het sy moeder hom Jesus genoem, vandag nog ‘n baie algemene naam in daardie streek. Jesus se moeder, Maria, was ‘n jong vrou 2) en sy vader 3) se naam was Josef. Niemand kan tot vandag toe met enige oortuiging sê dat Maria voor haar huwelik met Josef, ‘n maagd was of nie. Wat ons wel kan aanvaar, was dat Josef ‘n skrynwerker was. Daar is tot vandag toe ook steeds nie sekerheid of hy sy ouers se eersgeborene was nie, alhoewel sommige bronne so beweer 4). Sommiges reken dat hierdie man ‘n baie besonderse persoon was, want daar is ‘n hele testament oor hom en sy volgelinge geskryf. Voor sy tyd is daar egter ook ‘n ander testament geskryf wat volgens sommiges dan sou heenwys na sy geboorte, lewe en sterwe, en ja, selfs na die einde van die wêreld. Baie ander meen egter dat so iets verregaande is.

Vroeg in hierdie geskrif – die vroeër en ouer testament – lees ‘n mens van iemand met die naam van Josef. Hy was blykbaar ‘n tipe beeld van hierdie Jesus wat later gebore sou word. Jesus sou ook volgens hierdie testament uit dieselfde bloedlyn as Josef en sy voorvaders gebore word. Ongelukkig het hierdie Josef (tog baie opreg) op ‘n keer dronk geword en dit sou verder niks goeds voorspel nie. 5)

Jesus het ‘n vol en interessante lewe gely. ‘n Baie unieke lewe ook, moet bygesê word. Sommiges reken dat hy spesiaal gekom het om te soek en te red wat verlore is, maar die testament oor sy lewe swyg hieroor 6). Daar is ook groot kontradiksies tussen die twee testamente. Soms vind ‘n mens selfs leuens 7). Jesus het ‘n aantal volgelinge of dissipels gehad en talle kere kon hy hulle aanmoedig tot ‘n onselfsugtige lewe, maar tog het hy baie keer versuim om dit te doen 8,9). Op stadiums kon hy ook sy volgelinge en toehoorders ernstig waarsku oor groot oordele wat sou kom, maar vreemd genoeg het hy geswyg oor hierdie dinge 10,11,12). Een van sy volgelinge met die naam van Petrus het eendag iets gesê wat totaal onvanpas was, maar Jesus het niks daaroor gesê nie. Ja, hy het die Satan nie teëgestaan nie 13). ‘n Mens wonder soms hoekom hy so baie keer nie antwoorde kon verskaf wat werklik bevredigend was nie. Sy dissipels het hom eenmaal gevra hoe om te bid, waarop hy toe wel gereageer het. In die gebed wat hy hulle geleer het, kan jy egter maar enige vader aanroep 14) en hoef ‘n mens ook nie van die bose verlos te word nie 15). Verder behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid blykbaar ook nie tot in ewigheid aan die almagtige God nie 16). Vergifnis was ook glad nie vir hom ‘n saak van erns nie 17). Jesus was verder baie sag oor die saak van bekering 18,19) en soos vroeër reeds genoem is, was redding nie die hoofdoel van sy lewe op aarde nie 20). Hoe sou hy in elk geval iemand kon red, want hy was bloot ‘n gewone mens uit die ‘hemel’ 21,22).

Uit die testament oor sy lewe blyk dit dat hierdie Jesus gereeld gebid het. Daarom is dit vreemd dat hy (behalwe nou vir die vroeërgenoemde geval) sy dissipels so min meegedeel het oor die saak van vas en gebed 23). Een van sy grootste uitsprake was dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar ongelukkig het hy toe nie gesê waarvan die mens dan wel moet lewe nie 24).

Op ‘n dag het Jesus sy sogenaamde profetiese rede gegee. Dit was na aanleiding van ‘n vraag van sy dissipels oor watter tekens sy sogenaamde wederkoms en ook die voleinding van die wêreld sou voorafgaan. Nadat hy vertel het van valse Christusse, oorloë, hongersnode en aardbewings – hy het niks gesê van pessiektes nie 25) – het hy wonder bo wonder genoem dat al hierdie dinge maar net dui op die begin van ‘n nuwe tyd 26). Verstommend genoeg het hy geweet van die nuwe era of ‘new age’ beweging wat sou kom. Hoekom sou hy dit dan in so ‘n positiewe lig stel? Die ander gedeeltes in sy testament wat duidelik daarop dui dat die laaste dae baie swaar gaan wees en dat dit eintlik ‘n tyd van groot afval gaan wees, is dus pure onsin a,b,c)

Die gedeeltes waarna pas verwys is, is geskryf deur een van Jesus se getrouste volgelinge, ‘n man met die naam van Paulus. Tragies genoeg was hy egter ‘n misgeboorte 27) en wie sou dan nou in elk geval wou ag gee op so iemand se geskrifte?

Hierdie Jesus het ongeveer 33 jaar oud geword en toe het geweldige traumatiese gebeure in sy lewe afgespeel. Die testament wat voor sy lewe geskryf is, het heelwat oor hom te sê gehad en oor wat in hierdie tyd met hom sou gebeur. Op ‘n dag het soldate hom gegryp en hom op die bors geslaan 28). Daarna het hulle sy hande en sy voete vasgebind29), voordat hy gekruisig is. Hierna het wrede Jode egter gekom en hom doodgesteek 30). Hierdie dinge rym ongelukkig nie met wat in die testament oor sy lewe geskryf staan nie. In die tweede testament lees ons dat daar geen vergifnis van sonde is sonder die vergieting van bloed nie d). As sy hande en voete dan net vasgebind was, waar sou die bloed vandaan kom? Ons verlossing is blykbaar nie deur sy bloed nie 31). Daarom weet ons vandag nog steeds nie of enige een van die twee testamente enigsins die waarheid bevat nie. Ons kan beslis nie ons lewe waag op dit wat in hierdie geskrifte staan nie. Hierdie Jesus kon op ‘n stadium die skrifgeleerdes van destyds vermaan, maar ook hierdie keer het hy stilgebly >32). As hy hulle maar tog gewaarsku het, was dinge dalk anders vandag. Ja, Jesus het op ‘n stadium gesê dat van hierdie mense die duiwel as vader gehad het. Ons geslag kan egter maar met hierdie mense omgaan en hoef ons glad nie van hulle te onttrek nie 33)

Skynbaar was hierdie Jesus toe nooit die Alfa en Omega, oftewel die eerste en die laaste nie 34). Blykbaar was sy vader in die hemel ook nie die alleenwyse God nie 35). Blykbaar was Jesus toe ook al die tyd nie God geopenbaar in die vlees nie 36).

Waarheen is die arme mensdom oppad? Wie sou ons dan red?

Hierdie is die ander evangelie van die ander Jesus soos geïnspireer deur ‘n ander gees waarvan ons lees in 2 Kor. 11:4.

Dit is die evangelie van Jesus Christus volgens die: Nuwe Afrikaanse vertaling van 1983

Die hele verwronge verhaal is net so geneem uit tekste vanuit die nuwe vertaling. Elke vers kan nagegaan word en u sal verbaas staan dat nie een verkeerdelik gebruik is nie. Dit is wel so dat die ware evangelie ook in die 1983 vertaling aanwesig is, maar watter verwarring word nie geskep nie?

Vergelyk telkens die teksverse met die ooreenkomstige gedeeltes in die standaard Afrikaanse vertaling van 1933/1953 of met die Engelse King James Bybel.

 

NOTAS: (terug na bo)

Mig. 5:1 (1) Mark. 1:2 (7) Luk. 4:8 (13) Mark. 2:17 (19) Matt. 24:7 (25) Kol. 1:14 (31)
Jes. 7:14 (2) Matt. 5:44 (8) Luk. 11:2 (14) Luk. 9:56 (20) Matt. 24:8 (26) Matt. 23:14 (32)
Luk. 2:33 (3) Mark. 10:21 (9) Luk. 11:4 (15) Joh. 3:13 (21) 1 Kor. 15:8 (27) 1 Tim. 6:5 (33)
Matt. 1:25 (4) Mark. 6:11 (10) Matt. 6:13 (16) 1 Kor. 15:47 (22) Sag. 13:6 (28) Open. 1:11 (34)
Gen. 43:34 (5) Mark. 9:44 (11) Mark. 11:26 (17) Matt. 17:21 (23) Ps. 22:17 (29) 1 Tim. 1:17 (35)
Matt. 18:11 (6) Mark. 9:46 (12) Matt. 9:13 (18) Luk. 4:4 (24) Sag. 12:10 (30) 1 Tim. 3:16 (36)

 

Verduidelikend: (terug na bo)

2 Thess. 2:3 (a) 1 Tim. 4:1 (b)   2 Tim. 3:1-5, 13 (c) Heb. 9:22 (d)

 

Die 36 genoemde probleemverse is maar net ‘n uittreksel vanuit honderde meer sulke gevalle waar die nuwe Afrikaanse vertaling totaal foutief vertaal is. God se onfeilbare Woord word ernstig hierdeur aangetas en so ook die geloof van hulle wat dit sal lees.

In Ps. 119:160 lees ons dat “Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.”

In 2 Tim. 3:16 lees ons “Die hele Skrif is deur God ingegee ... ”

(Beide uit die 1953 vertaling).

HOE Ryn al hierdie dinge dan met God en Sy volmaakte lewegewende woorde?

Hoofkeuselys | Miskonsepsies en wanperspektiewe