Deel 2

 

Miskonsepsies en wanperspektiewe

 

(waaroor hierdie dokument nie gaan nie)

 

Daar is altyd ‘n aantal tipiese verwere oor die Bybelvertalingkwessie wat hier net kortliks aangespreek word:

  1. Dit gaan geensins in hierdie dokument oor ‘n probleem met ‘n meer moderne vorm van Afrikaans nie en dus daarom ‘n voorstel vir die ou Afrikaanse Bybelvertaling nie

  2. Dit gaan nie oor ‘n verlange of teruggryp na die ‘ou dae’ en ‘n verwerping van nuwe kennis, inligting of tegnologie nie

  3. Dit gaan nie oor harekloof of moedswillige aanvalle teen die Kerk van Christus nie

 

Soos reeds afgelei kon word uit die voorafgaande gedeelte, het ons hier te make met ‘n veel groter en ernstiger probleem. As u daardie tekste een vir een sou nagaan en u sien steeds geen probleem nie, dan sou dit uiters vreemd wees.

Die Woord van God is op groot skaal aangetas en sy Naam en sy eer is daardeur oneindige skade berokken.

 

Verwagte vrae in die gemoed

Vrae wat nou deur u gemoed gaan, mag die volgende insluit:

  1. Hoekom is die nuwe vertaling dan goedgekeur na al die jare se navorsing en vertaalwerk en hoe het die foute dan ingesluip?

  2. As daar dan werklik ‘n probleem met die 1983 vertaling was, sou teologiese akademici (professore aan kweekskole ens.) dit tog sekerlik lank gelede reeds ontdek het of hoe?

  3. Het Prof. P.F.D. Weiss dan nie alreeds in sy boekie, Feite en foute – oor Bybeltekste en Bybelvertalings (1990, Lux Verbi), die kwessies rondom hierdie aangeleentheid bevredigend beantwoord nie?

Al hierdie vrae en nog veel meer sal beantword word deur die loop van hierdie skrywe. Een ding is seker en dit is dat dit vir enigeen baie moeilik is om na soveel jare te moet erken dat daar tog ernstige fout met die nuwe vertaling is. Ons moet egter onthou dat geen mens groter as God is nie en daarom moet ons poog dat ons eie vooroordele teenoor hierdie dokument nie in die pad staan van ‘n ware objektiewe ondersoek na hierdie probleem nie.

Deur die loop van hierdie skrywe sal veral op die weglatings en verdraaiings ag gegee word, maar in die besonder ook op die gebruikte grondtekste en die oorsprong van die manuskripte wat beskikbaar is vir Bybelvertalings.

In Suid-Afrika is daar baie eensydige navorsing gedoen oor die oorsprong van manuskripte en grondtekste, terwyl daar in Amerika en Europa al vir baie jare deeglike navorsing oor al die verskillende vertalings en hulle oorspronge gedoen is. Die feit is dat die nuwe vertaling uit dieselfde grondtekste vertaal is as byna al die nuwe vertalings in Engels. Dieselfde verse en woorde is weggelaat en verander in hierdie bybels. Om hierdie rede kan ons veel gaan leer by navorsers uit hierdie lande.

Die belangrikste om te onthou, bly die volgende:

As dit so is dat die nuwe vertaling nie betroubaar is as Woord van God nie, en as daar doelbewus gepeuter is met die gebruikte manuskripte en grondtekste, is dit ‘n sonde in die oë van die lewende God en heel moontlik die grootste oorsaak van die agteruitgang van die Kerk van Christus in Suid-Afrika, asook die hoofrede vir die benarde situasie tans in ons land.

Hierdie dokument gaan oor die bewaring van die ware Woord van God vanuit ‘n hart van liefde teenoor God, sy kinders en almal in hierdie land.

Hoofkeuselys | Daar was 'n man | Die Woord aan die woord