Deel 8

Bibliografie

(Boeke beskikbaar oor die grondtekste)

 

Watter Woord (Bybel) is dan waarlik sy Woord? Kan ons dit weet? Is daar mense wat al deeglike navorsing in hierdie verband gedoen het. Ja, verseker.

Vervolgens ‘n lys van boeke en skrywers om daardeur aan te toon hoeveel navorsing al wel gedoen is m.b.t die hele Bybelvertalingkwessie. Hierdie is geensins ‘n volledige bibliografie nie, maar ‘n goeie aanduiding van hoe ernstig God se kinders voel oor die Woord en die bewaring daarvan.

Net ter inligting moet hier weer genoem word dat die standaard Afrikaanse vertaling (1933/1953) uit dieselfde groep manuskriptee vertaal is as die Engelse King James Bybel. Dit gaan in al hierdie boeke oor die verdediging en bewaring van die grondtekste van die King James Bybel van 1611 en hoe dit drasties verskil van al die nuwe Engelse vertalings wat vandag so geredelik beskikbaar is. Die geskiedenis en oorsprong van die aangepaste grondtekste (waarop die nuwe vertalings, ook die nuwe Afrikaanse vertaling gebaseer is), word sorgvuldig en krities onder die vergrootglas geplaas. Die boeke wat genoem word is almal in Engels en net sommige daarvan is in Suid-Afrika verkrygbaar. Addresse vanwaar hierdie boeke bestel kan word is egter beskikbaar op aanvraag.

  1. Unholy hands on the Bible, J.P. Green, 2 volumes, 1100 pp. Onder andere ‘n vergelyking van ses van die moderne Bybelvertalings met die Griekse ‘Majority Text’ – die Textus Receptus of aanvaarde teks.
  2. For love of the Bible: The battle for the King James version and the reveived text from 1800 to present

D.W. Cloud, 460 pp., waarvan 33 bladsye die bibliografie beslaan. Dit is die mees ekstensiewe bibliografie wat oor hierdie onderwerp bestaan.

  1. Myths about the King James Bible (stel in 5 volumes), D.W. Cloud.

Vol. 1 – Was Erasmus a Humanist?

Vol. 2 – Did the Protestant translators lack sufficient manuscript evidence?

Vol. 3 – Are there doctrinal differences between texts and translations?

Vol. 4 – Has the perfectly inspired Bible been only imperfectly preserved?

Vol. 5 – Is it true that modern scholarship is wholly arrayed against the old Textus Receptus? Are the issues too complex for the average Christian?

  1. English Bible: Manuscript evidences, R. Sargent, 305 pp. Ingeslote is ‘n 52 bladsye bylaag met ‘n lys van manuskripte asook ‘n lys van Engelse Bybelvertalings sedert 1611.
  2. Final authority, Dr. William P. Grady (B.D, Ph.D), 392 pp. ‘n Uitstaande werk wat al die kwessies rondom die nuwe vertalings opklaar.
  3. Which Bible?, Dr. David Otis Fuller, 350 pp. ‘n Samestelling van verskeie skrywers oor die behoud van die ware grondtekste.
  4. True or fasle?, Dr. David Otis Fuller, 317 pp. Nog ‘n verskeidenheid artikels oor die manuskripte en ook oor die Goddelike inspirasie van die Skrif.
  5. The King James version defended, Dr. Edward F. Hills, 254 pp.
  6. The identity of the New Testament text, Wilbur N. Pickering, 253 pp. Hy het studeer aan die bekende Dallas Theological Seminary.
  7. The last twelve verses of Mark, Prof. John William Burgon (1813-1888), 416 pp. Hy was ‘n Anglikaanse professor aan die Oxford Universiteit. Baie van die nuwe vertalings het glad nie die laaste 12 verse van die boek Markus nie. In ander nuwe vertalings word dit wel bygevoeg, maar dan word die byskrif gemaak dat dit nie in die ‘oudste’ manuskripte voorkom nie. Hoekom haal hulle dit dan nie maar heeltemal uit nie? Is die vertalers dalk onseker? In hierdie boek bewys Burgon bo alle twyfel dat hierdie 12 verse verseker in die Bybel moet wees. Hy het in sy dag onder kwaai kritiek deurgeloop omdat hy in die behoud van die ware grondteks geglo het. Die ander het geglo, net soos vandag nog, dat daar geen sogenaamde ware grondteks bestaan nie. Burgon het o.a. ongeveer 87 000 aanhalings van die ou kerkvaders versamel waar hulle die Skrif aangehaal het. Hierdeur kon hy vasstel watter van die sogenaamde probleemtekste wel vroeër deel van die Skrif was.
  8. The revision revised, Prof. John William Burgon, 548 pp. ‘n Deeglike kritiese evaluering van die eerste Engelse nuwe vertaling, die Revised Version, wat in 1881 verskyn het. Hierdie meesterwerk hanteer ook die oorsprong van die Griekse tekste wat in al die nuwe vertalings gebruik is. Ook word gekyk na Westcott en Hort (vertalers van die Revised Version) wat in Burgon se tyd geleef het. Hulle eienaardige sienswyses en teorieë word bespreek. Hierdie twee vertalers se invloed is vandag nog te vind in die nuwe vertalings. Later meer hieroor.

In sy boekie, Feite en Foute – Oor Bybeltekste en Bybelvertalings, skryf Prof. P.F.D Weiss van Pretoria baie neerhalend van Burgon. Dit is egter te verstane, want Burgon verdedig die King James Bybel en sy grondteks en Weiss die nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 met sy sogenaamde ‘ou’ grondteks. Weiss skryf in hierdie boekie dat Burgon die volgende ‘bewering’ gemaak het, waarmee hy duidelik glad nie saamstem nie: “Every book of the Bible, every chapter of it, every syllable of it, every letter of it, is the direct utterance of the Most High.” Weiss glo klaarblyklik nie die woorde van 1 Thess. 2:13 en 2 Tim. 3:16 nie. Hierdie werkie van Weiss skiet in elk geval ver tekort en bewys hoegenaamd nie dat die nuwe vertalings van die Bybel geregverdig kan word nie. Soos reeds genoem, is die Goddelike inspirasie van die Woord vir hom van weinig belang. Alles gaan oor die destruktiewe invloed van die ‘sondaar mense’ in die vertalingsprosesse. As ‘n mens egter waarlik weergebore is deur die Heilige Gees van God, is jy nie meer ‘n sondaar mens nie. Dan word jy ‘n kind van God – gereinig en geheilig deur die bloed van die Lam. Paulus skryf sy briewe aan die heiliges van die verskillende gemeentes wat hy gestig het, nie aan die sondaars van bv. Efese of Filipense nie. Daar is so baie ‘Christene’ wat so ver van God af lewe dat hulle maar wil deurgaan as sondaar mense. Die loon van die sonde is egter die dood (Rom. 6:23). Geen sondaar mens sal die hemel binne gaan nie, daarvan kan ons seker wees (1 Kor. 6:9-11; Open. 21:7,8,27; Open. 22:14,15). Jesus red EN VERLOS van sonde. 2 Kor. 5:17 vertel die hele verhaal. ‘n Ware kind van God kan nie dag vir dag in sonde voortleef nie – nie as die Heilige Gees in sy of haar lewe gekom het nie (1 Joh. 3:6-10). In vers 13 van hierdie laasgenoemde gedeelte lees ons hierdie bemoedigende woorde: “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.” As die wêreld jou omhels, daarenteen, is daar groot en ernstige fout.

  1. The traditional text, Prof. John William Burgon, 315 pp.
  2. A history of the debate over 1 John 5:7-8, Michael Maynard, 382 pp. Hierdie is by verre die mees omvattende studie wat nog oor hierdie verse gemaak is en die skrywer het 137 geskrifte in sy studie geraadpleeg, waaronder 50 volledige boeke. 1 Joh. 5:7 is uitgelaat uit byna al die nuwe vertalings – ook uit die nuwe Afrikaanse vertaling van 1983. Maynard bewys bo alle twyfel dat hierdie besondere vers verseker in die oudste manuskripte voorgekom het en daarom in die Bybel moet wees.
  3. PROBLEM TEXTS, Dr. Peter S. Ruckman, 499 pp. ‘n Uitgebreide werk wat elke moontlike sogenaamde ‘probleem teks’ in die King James Bybel bespreek en aantoon dat die probleem eintlik by die afvallige vertalers lê.
  4. The Christian's handbook of Biblical scholarship, Dr. Peter S. Ruckman, 404 pp. Die motiewe en metodes van vertalers word hier onder meer bekyk. Sommige sogenaamde ‘geleerdes’ is geweldig krities op God se Woord en op diegene wat waag om dit ernstig op te neem. In die tyd van Jesus was daar natuurlik ook sulke skrifgeleerdes en dit is baie bekend wat die Seun van God van hulle gedink het. Die boek behandel o.a. hierdie fenomeen. Ruckman word soms hewig gekritiseer omdat hy so reguit praat en omdat hy die King James Bybel as die foutlose Woord beskou. Geen lou liberale teoloog sal met hom saamstem nie. Eersdaags sal ons egter weet wie die waarheid gehad het.
  5. Things that are different are not the same, Dr. Mickey Carter. ‘n Praktiese boek wat die ooglopende verskille tussen die nuwe vertalings en die King James Bybel aantoon.
  6. New age Bible versions, Dr. G.A Riplinger, 690 pp. Hierdie boek het geweldige opslae in Amerika gemaak en is hewig gekritiseer vanuit sekere kringe. Duisende ander se oë het egter hierdeur oopgegaan. Die verbintenis tussen die nuwe vertalings en die diaboliese nuwe era beweging word hierin uiteengesit. Net die wat hulle doelbewus daarvoor wil blind hou, sal die ooreenkomste nie kan raaksien nie. Hierdie is skokkende inligting en sal jou help om baie meer te verstaan as net die Bybelvertalingkwessie. Meer as 2500 verse word vergelyk en 1480 voetnotas is in die boek vervat. Dit was die vrug van 6 jaar se intensiewe navorsing deur die skrywer.
  7. An understandable history of the Bible, Dr. Samuel C. Gipp, 242 pp. In eenvoudige taal word gekyk na die sogenaamde ‘oudste’ en ‘beste’ manuskripte wat vir die nuwe vertalings gebruik is. Hy wys ook hoedat die Jesuïete van die Roomse Kerk nog al die tyd poog om die Protestantisme binne te dring en die Protestantse Bybels aan te pas om Roomse gedagterigtings te volg.

Hy beskryf ook die vreemde onbybelse beskouings van professore Westcott en Hort wat die eerste nuwe vertaling in Engels daar gestel het. Hulle invloed het deurgewerk na al die nuwe vertalings.

  1. Corruption of the Word, Kevin James. ‘n Deeglike vergelyking van die verskillende Griekse manuskripte. Die verskille is soms groot en korrupsie was aan die orde van die dag.
  2. Forever settled, Dr. Jack Moorman. Oor die geskiedenis van die Bybel en spesifiek ook oor die vraag: ‘Waar was die Bybel voor die 1611 King James uitgawe?’
  3. Defending the King James Bible, Dr. D.A. Waite, Th.D., Ph.D., 306 pp. Die skrywer is besonder goed onderlê in Grieks en Hebreeus. Hy het oor ‘n tydperk van 35 jaar aan 9 inrigtings gedoseer. Hy verduidelik die viervoudige superioriteit van die King James Bybel bo die ander vertalings. Hy doen dit deur te verwys na grondtekste, vertalers, tegniek en teologie. Hierin word ook uitgewys hoe die nuwe vertalings byvoeg en weglaat uit God se Woord.
  4. Archaic words and the authorized version, Dr. Laurence M. Vance, 575 pp. Die boek bevat meer as 5 000 voetnotas. Hierin word meer as 750 ‘ou woorde’ in die King James Bybel (die Authorized Version) verduidelik. Die skrywer toon ook aan hoedat baie van hierdie woorde nie so oud is nie en dat dit vandag nog in koerante, tydskrifte en in die nuwe vertalings gebruik word. Baie interessant is sy vergelyking van ‘n lys woorde vanuit die New International Version (‘n moderne uitgawe – 1973) en hoedat talle en talle woorde hierin veel moeiliker is as die ooreenstemmende woorde in die King James Bybel.

(In ‘n toets in Amerika – die Flesch-Kincaid Grade Level leestoets – is ook bevind dat die ou King James Bybel in 23 uit 26 vergelykings makliker verstaanbaar en meer leesbaar is as die ander Engelse vertalings.)

  1. Which Bible can we trust?, L. Garret, 322 pp.

Hierdie Australiër bewys duidelik dat die nuwe vertalings wat die wêreld nou so oorspoel geensins vertrou kan word nie, omdat hulle op korrupte grondtekste gebaseer is.

 

Ons moet egter terdeë besef dat die hele, ware Woord van God tot vandag toe nog behoue gebly het net soos God dit in die Bybel belowe het. Sy Woord het beslis nie verander deur die eeue nie, die vertalingsprosesse ten spyt. Dat daar hordes vals vertalings is, is nie ‘n kwessie nie, maar sy Goddelik geïnspireerde Woord is vandag nog met ons. Jesus Christus is die Woord van God en Hy “is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb.13:8). In Heb. 1:1 lees ons juis dat God “in hierdie laaste dae” tot ons spreek deur sy Seun – die Woord. God is nie ‘n mens wat foute maak nie. Dit is Hy self wat sy Woord bewaar, nie mense nie.

Hierdie boeke is deur ware Bybelgelowige Christene geskryf wat nie bang was om die waarheid oor hierdie onderwerp na die oppervlak te bring nie. Hulle is beslis nie liberale teoloë wat baie maal fout vind met God en sy wonderbare Woord nie.

Hoeveel Christene in ons tyd is bereid om God se opdrag na te kom dat ons alle dinge moet ondersoek en dat ons net die goeie moet behou? (1 Thess. 5:21). As professore in teologie aan groot kweekskole dit kwalik doen, hoekom sou ‘gewone’ Christene dit dan nog waag doen? Die bogenmoemde lys van mense het dit wel gedoen en hulle getuienis is almal dieselfde: Daar is geweldige groot verskille tussen die verskillende vertalings van die Bybel en dit veroorsaak groot verwarring by baie mense. Dit terwyl die lewende God geensins ‘n God van verwarring en wanorde is nie. Hulle is dit ook eens dat daar getorring is met die grondtekste en manuskripte waaruit al die nuwe vertalings van min of meer die laaste 100 jaar vertaal is. Is dit ‘n verrassing? Leef ons dan nie in die tyd van die groot afval nie? (2 Thess. 2:3). Hierdie is mos juis die tyd van Laodicea – menseregte! Die mens neem die reg in sy eie hand en verander die Bybel na sy goeddunke, want hy is mos besig om te evolusioneer na godheid!

Hoekom is hierdie hele saak dan nou so belangrik en hoekom is daar so baie boeke oor die behoud van die korrekte grondtekste geskryf, sou miskien gevra kon word.

As die Woord van God nie 100% volmaak behoue gebly het deur die eeue heen nie, dan kan niemand ook seker wees van hulle verlossing in Christus nie. En as dit so is, hoekom sou ‘n mens dan ook ag slaan op bv. die boek Openbaring met sy verskriklike oordele? As daar binnekort dalk ook ‘nuwe getuienis’ vorendag gebring sou word in die vorm van nog ‘ouer’ manuskripte wat daarop sou dui dat die kruisiging, dood en opstanding van Christus glad nie so ‘n sentrale deel van die Skrif moet uitmaak soos wat ons vandag glo nie, hoeveel mense sal nie radikaal daardeur beïnvloed word nie? As die hedendaagse Bybels dan weer daarvolgens aangepas moet word, waar gaan die hele proses dan eindig? Paulus was nie onbekend met die planne van die Satan nie (2 Kor. 2:10,11), maar dit blyk dat die meeste van vandag se leraars heeltemal onbekend met die meesterplanne van God se teëstander is. Wie is dit wat die woorde van God wegneem of steel uit die harte van die mense? (Luk. 8:11,12).

Hoofkeuselys | Redes vir die verdraaiing van die Woord | Geraadpleegde bronne