Deel 7

Redes vir die verdraaiing van die Woord

 

  1. Opkoms van die Nikolaïete

In Open. 2:6 en 2:15 lees ons van die “werke” en ook van die “leer van die Nikolaïete” en dat God sy kerk hierteen waarsku. Hy sê eintlik Hy haat die leer van die Nikolaïete. Hierdie woord is afgelei van die Griekse woorde nikao, wat beteken ‘om te oorwin’ en laos wat beteken ‘die mense.’ Dus dui dit op ‘n groep mense wat ander wou oorwin of oor hulle wou heers. Die Engelse woord laity, oftewel diegene in ‘n kerk wat nie opgeleide priesters of kerklikes was nie, kom ook van hierdie woord af.

Die Rooms-Katolieke Kerk met sy hiërargie van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en Pouse is ‘n tipiese voorbeeld van hoe die Nikolaïetiese beginsel werk. Net hierdie mense het die mag en gesag om te besluit wat in die Woord van God staan en wat nie en ook hoe dit geïnterpreteer moet word. Die gewone kerkganger moet maar net daarby inval en het geen ‘kennis’ oor die Skrif nie. Hierdie was eintlik ‘n teruggryp na die ou Joodse tradisie van die priesteramp soos ons dit in die Ou Testament gevind het. In die Nuwe Testament is hierdie priesterampte nie meer nodig nie, omdat Christus nou ons enigste Hoëpriester is.

In die tyd waarin ons leef, vind ons weereens hierdie tendens en ja, selfs onder protestantse en gereformeerde groepe. Die hiërargie aan kweekskole op universitêre vlak herinner sterk aan hierdie Nikolaïetiese beginsel. Net diegene met ‘n sekere aantal jare studie in die teologie, veral dan hulle wat die hoogste sport in hulle rigting bereik het, het genoegsame kennis om ‘n oordeel te kan fel oor die Woord van God. In ‘n groot sin vandag regeer hierdie minderheidsgroep oor die ‘gewone kerkganger’, veral as dit kom by die interpretasie van sekere ‘moeilike’ Skrifgedeeltes.

In vandag se taal sou die gedeelte in Openbaring oor die Nikolaïete dus steeds dieselfde beteken. In Pred. 1:9 lees ons juis dat alles wat gebeur het, weer sal gebeur.

Hierdie tendens is egter teen God se wil. In Hand. 17:11 lees ons dat die mense van Berea elke dag die Skrifte ondersoek het om te kyk of dit wat Paulus hulle geleer het, wel so was. Paulus het hulle dan ook geensins teengestaan hierin nie. Natuurlik moet daar herders en leraars wees, maar nie in die tradisie van die Nikolaïete nie. God haat hierdie tendens. Die Roomse Pous was vir ‘n baie lang tyd die enigste persoon wat in die Roomse Kerk die Skrif kon ‘verstaan’ en gewone Katolieke mag nie eens ‘n Bybel besit het nie. Vandag is dit nie meer so drasties nie, maar ‘n ander euwel het dit nou vervang. Vals en aangepaste bybels wat deur Nikolaïete verdraai is om by hulle sienings in te skakel, verrig nou oneindige skade in die kerk van Christus. Jesus moes destyds die Skrifgeleerdes ernstig vermaan omdat hulle, ten spyte van hulle kennis, gedwaal het omdat hulle volgens Hom nie die Skrifte geken het nie en ook nie die krag van God nie (Matt. 22:29).

In 1 Kor. 1:18-25, Kol. 2:8 en 1 Tim. 6:20, 21 lees ons oor diegene wat so begaan is oor ‘sogenaamde kennis’ en wat graag daarin roem. Paulus het gesê hy roem net in die kruis, as hy enigsins sou roem (Gal. 6:14).

In Spr. 9:10 sien ons hoe ‘n mens ware wysheid en kennis kan bekom – net en alleen deur die vrees van die Here. Om te dink dat God sommige “dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” (Luk. 10:21). God let net op hulle wat “bewe vir my woord.” (Jes. 66:2) en verseker nie op hulle wat peuter met sy Woord nie.

  1. Die wêreld is in die mag van die Bose
  1. Afval en misleiding van die laaste dae

Jesus Christus en ook Paulus het telkens en met groot erns gewaarsku dat ons uiters versigtig moet wees vir die misleiding voor die wederkoms van Christus.

In sy profetiese rede het Hy teen valse profete en valse Christusse gewaarsku. In ‘n sekere sin is ‘n vals bybelvertaling ook ‘n valse Christus, want die ware Christus is die Woord wat vlees geword het (Joh. 1:1,14).

Hierdie is maar net ‘n paar redes hoekom die Bybel in ons dag aangetas is en steeds verder en verder verflou word.

Hoofkeuselys | Oorsprong van die grondtekste | Bibliografie