Ons leer in die Skrif dat die Woord van God oorspronklik aan die Jode in Israel gegee is vanwaar dit oor die wêreld heen versprei het (Rom. 3:1, 2). Hierdie Woord is deur God die Heilige Gees aan die mens gegee en 40 skrywers het dit oor sowat 1500 jaar neergepen om vir ons uiteindelik die Bybel, soos ons dit vandag ken, daar te stel. Die oorsprong van die destydse grondtekse is bewaar tot vandag toe, net soos wat God beloof het, en ons kyk vervolgens kortliks na die samevoeging van hierdie grondtekste.
Die oorspronklike Joodse skrywers van die Woord van God het dit oorgegee aan die Hebreeuse Masorete wat dit verder uiters noukeurig met die hand oorgeskryf het. Die woord Masoreet beteken basies ‘afgegee’ of dan ‘handed down’. So is die oorspronklike grondteks deur hierdie mense wonderbaarlik bewaar (deur God se ingryping en beskikking) en aan die volgende geslag oorhandig. Hier praat ons spesifiek van die Masoretiese Hebreeuse grondteks van die Ou Testament. Die King James Bybel in Engels en die ou of standaard Afrikaanse vertaling van 1933/1953 is gebaseer op hierdie ou Masoretiese grondteks. Dieselfde kan egter nie van die nuwe Bybelvertalings gesê word nie. Hier is ‘n aangepaste grondteks gebruik wat wel op die Masoretiese teks gebaseer was. ‘n Duitse teoloog met die naam Rudolf Kittel het egter sy Biblia Hebraica (Hebreeuse Ou Testament) grotendeels gebaseer op die Leningrad manuskrip wat dateer uit die jaar 1008 n.C. Hierdie manuskrip kom uit ‘n biblioteek in Leningrad, Rusland, waar die Roomsagtige Ortodokse Kerk ‘n sterk vesting het. As dit jou nie reeds uiters skepties laat nie, lees gerus voort. Hy het twee uitgawes in 1906 en 1912 uitgegee en weer in 1937 met die medewerking van Paul Kahle. Daar is egter ook interessante inligting oor Kittel waarvan min vandag bewus is. Sy broer, Gerhard Kittel, was baie goed bevriend met ‘n berugte opkomende leier in Duitsland: Adolf Hitler! Hy het Hitler en sy waansinnige optredes sterk verdedig. Rudolf Kittel was verder ‘n ‘hoër kritikus’ wat nie in ‘n onfeilbare Goddelik geïnspireerde Bybel geglo het nie. Hy was dan ook ‘n evolusionis! Geen wonder dus dat hy aanpassings aan die Skrif aangebring het nie. Die Biblia Hebraica Stuttgartensia van 1977 is tans die nuutste teks wat gebruik word vir byna al die nuwe vertalings (Ou Testament) oor die wêreld heen. Hierdie een kom ook uit die lyn van Kittel se eerste ‘aanpassing.’ Die vraag is net waarom het die geleerde teoloë en Bybelvertalers besluit om af te wyk van die oorspronklike Masoretiese grondteks wat deur die eeue heen bewaar is. Die rede wat aangevoer word is dat die Codex Leningradensis (1008 n.C.) dan nou sogenaamde die ‘oudste’ en ‘beste’ manuskrip is wat beskikbaar is. Die verskille tussen hierdie manuskrip en die oorspronklike Masoretiese teks is egter van omvangryke aard. Later meer oor die verskille. Sommige ou manuskripte is juis in ‘n goeie toestand bewaar omdat die kerkvaders daardie tyd al getwyfel het aan die betroubaarheid van hierdie spesifieke manuskripte.
Die geskiedenis van die Nuwe Testament is veel ingewikkelder. Martin Luther se Duitse Bybel, William Tyndale se Bybel, die King James Bybel van 1611, die Hollandse Staten Bijbel en ons ou Afrikaanse vertaling is o.a. gebaseer op ‘n groot groep grondtekste wat bekend geword het as die Textus Receptus (Received Text). Hierdie was die aanvaarde teks deur die eeue heen wat deur ernstige Bybelgelowige Christene gebruik is (ook hulle wat swaar deur die Roomse Kerk vervolg is, soos die Waldense, Franse Hugenote, e.a.) . Dit word ook die Bizantynse Teks genoem. Hier praat ons van die Griekse grondteks waarop die Nuwe Testament gebaseer is. God het net soos Hy belowe het hierdie ware grondteks of dan die Woord deur die eeue heen volmaak bewaar deur ware en opregte Christene wat waarlik weergebore was en God met alles gedien het. God kon net diesulkes vertrou met die ware manuskripte. Hy het geweet hulle sou sy Woord bewaar, omdat hulle Hom bo alles liefgehad het (Joh. 14:23). Ons het egter ook hier, wat die Nuwe Testament betref, te make met twee groepe of lyne van grondtekste. Die ware lyn, soos genoem is, en ook ‘n valse of aangepaste een.
Desiderius Erasmus het self hierdie twee groepe onderskei. Hy was professor aan Cambridge Universiteit en het die eerste van sy vyf uitgawes van die Griekse grondteks in 1516 die lig laat sien en die laaste in 1535. Stephanus se vier grondtekste het vanaf 1546 tot 1551 gevolg. Dit het later (eers in 1624 met Elzevir se grondteks) as die Textus Receptus begin bekend staan. Hierdie was die basis van die ware Nuwe Testament wat ons vandag het. Aantygings dat Erasmus ‘n humanis was, is verder van alle waarheid ontbloot. In twee deeglike biografieë oor sy lewe word die waarheid omtrent sy teologiese beskouings duidelik uiteengesit. Hy was verseker nie ‘n humanis in die sin waarin ons dit vandag verstaan nie.
&Aelig; (Sien Bylae B vir ‘n deeglike uiteensetting oor Desiderius Erasmus en oor die vooroordele wat teen hom bestaan – o.a. dat hy ‘n humanis was).
Hy het verder ‘n groot rol gespeel in Martin Luther se wegbreek vanuit die Roomse Kerk en die daaropvolgende Hervorming. Self was Erasmus (alhoewel in die Roomse Kerk) baie Protestants in sy denkrigting en ook grootliks gekant teen die Roomse sisteem waarin hy hom bevind het. In sy Boek, Praise of Folly, het hy die Rooms-Katolieke Kerk se talle onbybelshede treffend aan die kaak gestel. Vandag egter wil teoloë dit hê dat Erasmus se grondtekste wat ook vir die Nuwe Testament van die King James Bybel gebruik is, nie die beste Griekse grondteks is nie. Hulle is ook gekant teen sy sogenaamde humanisme. Hierdie selfde teoloë van ons tyd is egter veel meer humanisties, glo in evolusie, hang ‘new age’ beginsels aan en loop hand om die lyf met die Roomse Kerk. Watter skynheiligheid is dit nie? Sedert 1611, na die publisering van die King James Bybel, is daar nog duisende manuskripte ontdek en tussen 90% en 95% van hierdie manuskripte het wel woordeliks ooreengestem met die grondteks wat Erasmus saamgestel het.
Daar is huidiglik ongeveer 5255 manuskripte beskikbaar waarop die Nuwe Tetsament gebaseer kan word. Volgens Dr. D.A. Waite, in sy boek Defending the King James Bible, stem 5210 van hierdie manuskripte (99%) ooreen met die Textus Receptus en net 45 manuskripte (ongeveer 1%) verteenwoordig die ander lyn, die van die veranderde grondteks waarop feitlik al die nuwe Bybelvertalings in ons dag gebaseer is. Wat sou gebeur het as hierdie ‘n hofsaak was en hierdie oorweldigende getuienis as ‘n bewysstuk daarin sou dien? Dit is dan ook hoekom die Textus Receptus of aanvaarde teks as die ‘meerderheids-teks’ bekend staan. Is dit nie ‘n absolute skande dat so iets in hierdie verligte eeu die oog van die kenners ontglip nie? Of is daar dalk ‘n gans ander rede hiervoor?
Die ware grondteks is bewaar in Antiochië onder ware betroubare kinders van God. Onthou, dit was juis in Antiochië dat die dissipels “vir die eerste keer Christene genoem” is. (Hand. 11:26).
Die duiwel het egter sy eie planne met die Woord gehad en ‘n ander groep aangepaste manuskripte moes eenvoudig daargestel word. Die belangrike vraag is nou egter waar hierdie ander lyn van manusripte hulle oorsprong gehad het. Die bekende Clement van Alexandrië het ‘n skool van die Gnostisisme (sogenaamde kennis) in hierdie Egiptiese stad begin. Alexandrië was reeds goed bekend vir sy heidense en okkultiese bedrywighede in daardie tyd, soos wat dit ook vroeër was en tans maar steeds is. Hoekom het God dan juis sy volk vanuit Egipte laat wegtrek? Afgodediens het hier hoogty gevier. Ons weet dat die Egipties/Babiloniese sonaanbidding hier ‘n mekka gehad het. Egipte was in elk geval tot vandag toe nog nooit ‘n bakermat van die Christendom nie. In Hand. 6:9 lees ons hoedat daar o.a. mense van Alexandrië was wat met Stefanus, die eerste martelaar, geredetwis het. Die Bybel verwys nie positief na Alexandrië nie.
Een van Clement van Alexandrië se ‘beste’ studente was Origenes. Hy het op sy beurt weer die heidense filosoof Plato grootliks bewonder en ook sy werke is deur hom bestudeer. Origenes het verder ook aan ‘n okkultiese skool van filosofie, wat genoem is Neo-Platonisme, gestudeer. Hy het die volgende oor die Bybel te sê gehad: “The Scriptures are of little use to those who understand them as they are written.” Die letterlike verklaring van die Bybel was dus vir hom net eens te veel. Hy het die Skrif begin vergeestelik en vandag nog sit moderne teoloë met hierdie oorgeërfde interpretasie metode van die Skrif. Hoe tragies. Origenes het ‘n Bybel in ses kolomme saamgestel (die Hexapla) waarin hy die Woord van God deurspek het met heidense kennis en beskouings. Dus so ‘n mengsel van lig en duisternis. In 312 n.C. het die nuwe Romeinse Keiser, Konstantyn, ‘n Bybel gesoek vir sy ryk, maar eintlik wou hy die Christendom en die heidendom versoen. Konstantyn het self die songod aanbid en hierna steeds daarmee voortgegaan (Constantine, Ramsay McMullen, The Dial Press, Crosscurrents in World History Series, New York, 1969, p. 72). Konstantyn was nooit, soos baie dit vandag wil hê, ‘n ware Bybelse Christen nie. Hy het egter opdrag gegee dat vyftig Bybels saamgestel word om sy doel te bereik. Die ideale Bybel wat toe as basis gebruik sou word, was toe die een wat Origenes geskryf het – die Hexapla en wat deur Eusebius hersien is volgens die wens van Konstantyn.
Origenes het ‘n baie groot invloed op die Roomse Kerk gehad, soveel so dat die bekende Rooms-Katolieke teoloog, John Henry Newman, gesê het: ‘I love the name of Origen’. Hierdie Alexandrynse manuskripte het dus in die hande van die Roomse Kerk gekom en hulle Bybels is ook hierop geskoei, soos bv. die Latynse Vulgaat.
In 1481 is ‘n ou manuskrip ontdek in ‘n biblioteek van die Vatikaan. Hierdie manuskrip het bekend geword as die Vaticanus B of Codex Vaticanus en is gebaseer op die Alexandrynse manuskripte waarin Origenes ‘n hand gehad het. Hierdie Vaticanus manuskrip stem slegs sowat 50% van die tyd ooreen met die oorspronklike Textus Receptus. Dit verskil dan ook op byna 8000 plekke van laasgenoemde. Dit kom neer op omtrent een verandering per vers. Op ongeveer 600 plekke is daar gedeeltes in wat in geen ander manuskrip voorkom nie – dus byvoegings. In die evangelies alleen is daar verder weer ‘n paar duisend woorde uitgelaat. Volgens die Vaticanus is die volgende nie deel van die Bybel nie: Die boek Openbaring; Filippense; Titus; I en II Timotheüs asook dele van die Psalms en Genesis en nog veel meer. In hulle plek word egter apokriewe boeke bygevoeg soos Bel en die Draak; Tobit en die brief van Barnabas. In 1582 het die Roomse Kerk hulle Jesuïete Bybel, die Rheims, die lig laat sien – natuurlik gebaseer op die Vaticanus. In hierdie Roomse Bybel vind jy ook nie die boek Openbaring nie. Is Open. 17 dalk ‘n te reguit verwysing na hierdie Kerk? Hulle het egter wel afgewyk van die Vaticanus en die ander boeke tog in hulle Bybel vervat. Hoekom word daar dan afgewyk van hierdie ‘ou goeie’ manuskrip? Protestantse navorsers kon nog nooit toegang verkry tot die oorspronklike Vaticanus om te sien wat daarin aangaan nie, maar werk slegs vanaf kopieë daarvan wat deur die Vatikaan voorsien word.
Die ander bekende manuskrip wat ontdek is en wat ‘n reuse bydrae tot die nuwe vertalings van die Bybel gemaak het, was die Sinaïticus of Codex Sinaïticus manuskrip.
Constantin Tischendorf het hierdie manuskrip in 1844 in ‘n monnike klooster (St. Catherine’s) by die voet van die berg Sinaï gevind – en wel in ‘n snippermandjie! In 1859 is die res van hierdie manuskrip opgespoor. Tischendorf se hersiening van hierdie manuskrip het reeds aangetoon dat daar tot op daardie stadium al 14800 plekke was waar veranderings aan die teks aangebring is. Meer onlangs het Milne en Skeat d.m.v. ‘n ultra-violet lamp ontdek dat die oorspronklike teks op plekke uitgevee was.
Ongeveer 4000 woorde is alleen uit die evangelies weggelaat (interessant hoedat die vier evangelies swaar getref is deur die Bybelkorrigeerders – is dit omdat dit veral oor die Redder en redding van die mens gaan?). Omtrent ‘n 1000 ander woorde is weer by die evangelies bygevoeg. Sowat 1500 gedeeltes kom ook hierin voor wat in geen ander manuskrip voorkom nie. Het God nie gesê dat ‘n saak by twee of meer getuies sal vasstaan nie? Behalwe dat hierdie Sinaïticus manuskrip talle verse in totaliteit uitlaat, is daar ook ‘n hele aantal boeke wat geheel en al weggelaat is. Hulle sluit in die boek Daniël en ook Esegiël (boeke met spesifieke profesieë oor die eindtyd); Hosea; Amos en nog vele meer. Miskien sou jy nou vra hoekom die nuwe vertalings dan wel hierdie boeke bevat? Dit is ‘n goeie vraag. In sulke gevalle het hulle teruggegaan en teen die ‘bewyse’ van hierdie ou en ‘beste’ manuskripte tog die ander ‘minder betroubare’ manuskripte (in hulle oë), gaan raadpleeg wat wel hierdie boeke in het. Om sommer boeke links en regs weg te laat sou in elk geval selfs die liberale teoloë se wenkbroue laat lig. Die dag is egter baie naby dat boeke in die vals vertalings wel weggelaat gaan word.
Talle apokriewe boeke is verder ook as Woord by hierdie Sinaïticus manuskrip bygevoeg. Wanneer die Vaticanus en Sinaïticus manuskripte saam beskou word, verander hulle die meerderheidsteks (Textus Receptus) op ongeveer 13000 plekke. (Hier moet genoem word dat daar in 1982 en 1991 ook twee sogenaamde ‘Majority Texts’ hulle verskyning gemaak het, maar dit is nie die Textus Receptus nie). Verder is dit treffend om daarop te let dat hierdie twee genoemde aangepaste manuskripte ook grootliks van mekaar verskil. U sal saamstem dat hierdie beslis nie die manier kan wees waarop die lewende en ordelike God van hemel en aarde sy ewige Woord sou bewaar nie. En om te dink hierdie twee manuskripte wat gebaseer is op die manuskripte uit Alexandrië in Egipte en wat oorspronklik dateer uit die jare 250-300 n.C. is die basis vir al die nuwe vertalings van die Bybel – ook die nuwe Afrikaanse vertaling van 1983.
F Onlangs is die oudste Nuwe Testamentiese fragment ontdek, die Magdalen Papyrus wat dateer uit die jaar 60 n.C. en dit bewys dat die Textus Receptus grondteks heeltemal korrek is en nie die grondtekste van die nuwe vertalings nie (The Language of the King James Bible, Dr. G.A. Riplinger, 1998). Dit is egter nog glad nie waar alles eindig nie.
In die middel 1800's het die Anglikaanse Kerk in Engeland opdrag gegee vir die hersiening van die King James Bybel. Dit het gekulmineer in die eerste nuwe Engelse Bybel in amper 300 jaar, nl. die Revised Version van 1881.
Twee uitstaande figure in hierdie hele hervertalingsproses vanuit die ‘oorspronklike tale’ was Dr. Fenton John Anthony Hort (1828-1892) en Dr. Brooke Foss Westcott (1825-1901). Hulle was die hoofvertalers van hierdie nuwe Engelse vertaling. Wie was hulle en waarin het hulle geglo is egter ‘n vraag waarna dringend gekyk moet word. Die volgende uitsprake van hierdie twee akademici verdien ons aandag:
F Oor die gesag van die Bybel:
“I agree with them in condemning many leading specific doctrines of popular theology... especially the authority of the Bible.”
F Oor evolusie:
“But the book which has most engaged me is Darwin..... My feeling is strong that the theory is unanswerable.”
F Oor die duiwel:
“Now if there be a devil, he cannot merely bear a corrupted and marred image of God; he must be wholly evil, his every energy and act evil. Would it not be a violation of the divine attributes for the Word to be actively the support of such a nature as that?”
Die Bybel praat nie die duiwel goed nie, maar verdoem hom en die wat hom dien. Die hoogegeleerde Dr. Hort kon of wou dit nie insien nie.
F Oor sy ontkenning van Christus se volmaakte versoeningswerk:
“The fact is, I do not see how God's justice can be satisfied without every man's suffering in his own person the full penalty for his sins.”
F Oor Maria-aanbidding:
“Mary-Worship and Jesus-Worship have very much in common.”
F Oor demokrasie:
“I...cannot say that I see much as yet to soften my deep hatred of democracy in all it’s forms.”
F Oor rassisme:
“As yet, everywhere (not in slavery only) they have surely shown themselves only as an inferior race, just human and no more, their religion frothy and sensuous, their highest virtues those of a good Newfoundland dog.”
Dit is sy beskrywing van die Amerikaanse Negers. Skokkend – veral in vandag se terme.
Hort het ook betoog dat “ ... all distinctively Syrian readings may be set aside at once, certainly originating after the middle of the third century.” Hierop het Kenyon (1937), wat die Westcott/Hort teks verdedig het, tog bygevoeg dat “If it can be shown, that the readings which Hort called ‘Syrian’ [m.a.w. die regte manuskripte uit Antiochië] existed before the fourth century, the keystone would be knocked out of the fabric of this theory.” (New Age Bible Versions, Dr. G.A. Riplinger, 1993). Hierdie Siriese manuskripte het wel hulle ontstaan gehad voor die vierde eeu en dit is reeds bewys deur nuwe ontdekkings soos die Magdalen Papyrus van 60 n.C., waarvan reeds vroeër melding gemaak is.
Die P66 manuskrip van 175 n.C. is ‘n verdere bewys dat die Textus Receptus, soos in die ou of standaard vertaling, wel op die heel oudste manuskripte gebaseer is. Hort was dus totaal verkeerd in sy beredenering. Sy eie woorde verklaar dit so duidelik. Die bewyse is gevind en sy teorie stort daarmee in duie.
F Oor die gesag van die Skrif:
“I am not able to go so far as you in asserting the absolute infallibility of the canonical writing.”
F Oor wonderwerke:
“I never read an account of a miracle, but I seem instinctively to feel its improbability.”
F Oor die skepping:
“No one now, I suppose, holds that the first three chapters of Genesis, for example, give a literal history – I could never understand how anyone reading them with open eyes could think they did.”
Wie het sy oë ‘verlig’? (Gen. 3:5).
F Oor die eenwording van nasies:
“Our hearts are moved when statesmen or students speak with glowing hope of the coming union of nations.”
F Oor kommunisme:
“I suppose I am a Communist by nature.”
Om alles te kroon het hierdie twee Engelse geleerdes van die Cambridge Universiteit ook aan ‘n okkultiese organisasie behoort met die naam: ‘The Ghostly Guild.’ Westcott was verder lief om Hallowe’en te vier en het geglo dat die oproep van geeste doodnatuurlik was. Josh McDowell word aangehaal in New Age Bible Versions, waar hy skryf oor Westcott se geloof dat “the spirits of the dead return to their former home to visit the living.” Hy het blykbaar nie die Bybel baie goed geken nie. Hierdie twee professore was, om die minste te sê, by uiters vreemde en verdagte aksies betrokke. Sou God sulke mense kies om sy Woord te bewaar vir die 20ste eeu of is dit alles deel van die geweldige afval wat die Bybel voorspel het vir die laaste van die dae? Het dit dalk iets te make met die wegbereiding vir die komende Antichris?
Drs. Wescott en Hort het ‘n nuwe Griekse grondteks vir die Bybel daargestel, maar dit was grootliks geskoei op die korrupte Vaticanus en Sinaïticus manuskripte. Die verstommendste is egter dat hulle ook wysigings in hulle grondteks aangebring het. Ja, hulle alleen het altesaam 5337 veranderinge aan die Nuwe Testament aangebring – dit is verskille met die Textus Receptus grondteks wat die King James Bybel onderlê. Hierdie swaar aangepaste grondteks is later grotendeels deur Kurt Aland en Eberhard Nestle (albei liberale Duitse teoloë en evolusioniste) gebruik vir hulle hersiene uitgawes van die Griekse grondteks. Vandag word die 26ste uitgawe van die Nestle teks deurgaans gebruik vir die meeste nuwe vertalings. Die 27ste uitgawe is ook al uit. Aland het o.a. die volgende te sê gehad oor die daarstelling van ‘n aanvaarbare Bybel en die rol daarvan in die eenwording van die Kerk: “The first thing to be done, then, would be to examine critically one’s own selection from the formal Canon [volledige samestelling van Bybelboeke] ... This road will be long and laborious and painful. ... if we succeed in arriving at a Canon which is common and actual, this means the achievement of the unity of the faith, the unity of the Church.” Die ‘United Bible Societies’ se derde uitgawe van 1975 is weer op sy beurt gebaseer op die Nestle/Aland teks en daaruit het ook die nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 tevoorskyn gekom. Die Jesuïete Kardinaal van die Roomse Kerk, Carlo Martini, is vandag op die komitee van die ‘United Bible Societies’, waar hy saam met ‘protestante’ werk aan nuwe vertalings. In die Time tydskrif van 26 Desember 1994 het hulle na hom verwys as ‘n moontlike opvolger vir die huidige Pous. In ‘n ander Time artikel is berig oor ‘n sinkretistiese byeenkoms wat Martini vir nagenoeg 100 godsdienstige leiers vanoor die wêreld gereël het. Mikhail Gorbachev was ook teenwoordig en het die vergadering o.a. soos volg toegespreek: “We need to synthesize a new religion for thinking men that will universalize that religion for the world and lead us into a new age.” Daar mag miskien denkende mense wees, maar hierdie mense het vergeet om aan die God te dink wat hulle gemaak het en ook totaal vergeet van sy ewige Woord wat nooit kan verander nie.
As ons nou net vlugtig gaan kyk na die bybelvertalings wat vandag die wêreld oorspoel en ja, ook hier in ‘Christelike’ Suid-Afrika, dan vind ons dat feitlik al die nuwe vertalings van Roomse oorsprong is. Die Griekse grondteks van die New International Version (NIV), wat vandag die beste verkoper van alle Bybels is, stem verstommend ooreen met die Roomse Bybel – die nuwe Latynse Vulgaat, wat in 1979 verskyn het.
In 1964 het verteenwoordigers van die ‘United Bible Societies’ en die Rooms-Katolieke Kerk saam by die Driebergen Konferensie byeengekom en is voorgestel dat daar begin word om ‘n gemeenskaplike grondteks (‘common text’) voor te berei, wat vir beide die Protestante en die Rooms-Katolieke aanvaarbaar sou wees. ‘n Jaar later, tydens die ‘Second Vatican Council’, is hierdie voorstel deur die Roomse Kerk bekragtig. In 1967 het die Roomse Kerk vir Kardinaal Carlo Martini afgevaardig en hy het hom aangesluit by die ‘International Editorial Committee’ van die ‘United Bible Societies’. Carlo Martini – die Aartsbiskop van Milaan, die Vatikaan se gesaghebbendste Griekse kenner, ‘n Jesuïet en ‘n moontlike opvolger vir die huidige Pous, was ‘n lid van die komitee van die UBS tydens die voorbereiding van die tweede en derde uitgawes van ‘The Greek New Testament’. Toe die derde uitgawe van ‘The Greek New Testament’ in 1975 verskyn het, was daar meer as 500 veranderinge aangebring deur Kardinaal Martini en sy kollegas. (Doen jouself ‘n guns en kyk in die voorwoord van die vertaling wat jy gebruik of dit nie dalk ook uit hierdie stal kom nie). Dit was dus ‘n totale hersiening van die grondteks wat tevore gebruik is. Dit is baie duidelik dat hierdie kenners nie die God van die Bybel baie ernstig opgeneem het nie.
(All Roads Lead to Rome? – The Ecumenical Movement, Michael de Semlyen, Updated Edition, 1993).
Hierdie is die Engelse vertaling wat tans die wydste gelees word. Ongelukkig het hierdie ‘Bybel’ 64 576 woorde minder as die King James Bybel. Dit sluit nie klein woordjies soos ‘a’ en ‘the’ in nie. 17 volledige verse is uitgelaat. Op 176 plekke is woorde soos Jesus, Christus, Here en God uitgelaat. ‘n Mederwerker aan die NIV, Dr. Virginia Mollenkott is ‘n selferkende lesbiër en verdediger van homoseksualisme. In die Episcopal Witness van Junie 1991 pp. 20-23 erken sy: “My lesbianism has always been a part of me ...” Het dit dalk iets te doen met die feit dat die woord ‘sodomite’ totaal verwyder is uit dieNIV. Beteken dit nou God se siening oor die saak het verander? Die NIV verander nou die woorde in 1 Kor. 6:9 so dat dit nou “homosexual offenders” is wat nie in die koninkryk van God sal kan ingaan nie. M.a.w. as jy teen homoseksueles is, is jy nou verdoem. Dit is presies die teenoorgestelde wat die ware Bybel sê en is maar net een van talle sulke voorbeelde. Verder moet genoem word dat die NIV tans beheer word deur ’n maatskappy van biljoenêr Rupert Murdoch. Een van sy ander maatskappye versprei weer pornografie. Sou God sy ware Woord aan hierdie man toevertrou? Die Bybel was nog altyd die boek op aarde wat die beste verkoop het en die NIV is nou die beste verkoper in Engels. Daar is vandag baie geld in die Bybelbesigheid. Die Woord waarsku ons egter hieroor as ons na Paulus se gesindheid kyk: “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie ... ”
(2 Kor. 2:17).
Hierdie Bybel se Ou Testament is op die aangepaste grondteks geskoei en die Nuwe Testament bevat ook talle verdraaiings en veranderings. Die simbool op die buiteblad is verder baie verdag en word ook in talle ‘new age’ geskrifte gevind. Dit kan staan vir 666 en dui op die antieke heidense of dan Babilonies/Egiptiese drie-eenheid.
Hierdie gewilde Bybel het ook sy kwota probleme. In ‘n ondersoek na 200 veranderinge in die moderne Bybelvertalings is gevind dat 165 van hierdie veranderinge ook in die Amplified Nuwe Testament aanwesig is. Dit behels veral die weglating van kernwoorde en sinsnedes.
Hierdie is bloot ‘n parafrase en kan geensins as ‘n Bybel beskou word nie. ‘n Vreemde ding het met die skrywer, Kenneth Taylor gebeur nog voordat hierdie ‘Bybel’ gepubliseer is. Kyk na die volgende aanhaling: “Mysteriously half way through the paraphrase Taylor lost his voice and still speaks in a hoarse whisper. A psychiatrist who examined him suggested that the voice failure was Taylor's psychological self-punishment for tampering with what he believed to be the Word of God.” (Time, 24 Julie 1972). Of was dit dalk God se oordeel oor hom? Is dit heeltemal verrassend? In Luk. 1:20 lees ons: “En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” As ‘n mens vandag met talle ‘Christene’ oor die profesieë praat wat voor ons oë in vervulling gaan, is dit ook asof hulle met stomheid geslaan word – hulle kan geen woord uitkry nie! Ook in Ps. 12:4 lees ons: “Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat,”. Die nuwe vertalings praat so sag en vleiend – dit streel die gehoor en misken baie oordele.
Dieselfde lot wat Taylor getref het, het ook 4 ander Bybelkorrigeeders se deel geword, nl. Westcott, Philip Schaff, S.P. Tregelles en J.B. Phillips. Van hierdie mense kon later glad nie meer praat nie. Lees gerus ook Ps. 31:19 en Spr. 10:31. God laat Hom verseker nie bespot nie.
Hierdie Engelse vertaling is ook op die korrupte grondtekste gebaseer met talle probleme. Op 214 plekke is woorde soos Jesus, Christus, Here en God uitgelaat. Sou God dit doen as Hy soveel gedoen het (die kruisdood van sy Seun) om ons met Hom te versoen? Kyk wat het Dr. Frank Logsdon, ‘n sleutelfiguur in die vertalingsproses van hierdie ‘Bybel’ later te sê gehad:
“I must under God renounce every attachment to the New American Standard. ... I’m afraid I’m in trouble with the Lord ... We laid the groundwork; I wrote the format; I helped interview some of the translators; I sat with the translator; I wrote the preface ... I’m in trouble; I can’t refute these arguments; it’s wrong, it’s terribly wrong; it’s frighteningly wrong; ... The deletions are absolutely frightening ... there are so many ... Are we so naive that we do not suspect Satanic deception in all of this? ... you can say the Authorized Version [King James] is absolutely correct. How correct? 100% correct! ... If you must stand against everyone else, stand.”
En om te dink die nuwe Afrikaanse vertaling is maar grootliks die ekwivalent van die New American Standard. Lewis Foster en Calvin Linton van die NIV vertalingskomitee het ook later te kenne gegee dat alles glad nie wel was in die vertalingsproses nie. Destyds met die nuwe Griekse teks van Westcott en Hort, het talle persone wat deel aan die ‘vernuwing’ gehad het, hulle ook later onttrek en wou nie meer geasosieer wees met die projek nie. Net soos Judas van ouds het hulle spyt gekry dat hulle die Woord van God aangetas of dan verloën het.
Hierdie Bybel wat ook as die Authorized Version bekend staan, is op versoek van Koning James I van Engeland vertaal vir die Engelssprekende beskawing en ons is hom daarvoor tot vandag toe nog dank verskuldig.
Hy het ‘n vertalingskomitee van 48 vertalers saamgestel en hierdie mense was hoegenaamd nie te vergelyk met vandag se vertalers nie. Onthou vir ‘n oomblik dat daar in die jare rondom 1600 nie televisies was waarvoor die vertalers kon lê nie, daar was nie radios nie, geen rekenaars nie, geen motors nie, geen vliegtuie nie. Dit was nie die gejaagde lewe van die 20ste eeu nie. Kortom, daar was stilte. Die vertalers kon in stilte voor God buig om hulle te help in die vertalingsproses. Kom ons kyk kortliks na van die uitstaande vertalers wat God gekies het vir hierdie King James Bybel van 1611 wat vandag nog met ons is. Daar was Dr. Lancelot Andrews. Hy was 15 tale magtig. Is daar vandag sulke vertalers? Daar was Dr. William Bedwell. Behalwe vir Grieks en Hebreeus was hy ‘n meester in Arabies en Latyn. Hy het die briewe van Johannes in beide hierdie tale vertaal.
Hy het ‘n Arabiese woordeboek saamgestel in drie volumes en ook gewerk aan ‘n Persiese woordeboek. Daar was Dr. Miles Smith. Hy was uitstaande in Hebreeus, Chaldees, Siries en Arabies. Grieks en Latyn het hy ook deeglik bemeester. Daar was Sir Henry Saville. Grieks en wiskunde was sy sterkpunte. Hy het Koningin Elizabeth in beide onderrig. Hy het talle moeilike werke uit die ou Grieks vertaal. Daar was John Bois. Sy vader het hom geleer. Op 5-jarige ouderdom het hy reeds die hele Bybel in Hebreeus gelees. Op 6 kon hy reeds Hebreeus skryf – duidelik en in ‘n elegante styl. Daar was van die vertalers wat daarvoor bekend was dat hulle ure elke dag in gebed tot God deurgebring het. Een se stiltetyd was bv. daagliks van vieruur tot agtuur in die oggend. Ander weer het meer as twaalf ure per dag aan die studie van die Skrif gewy. Dit is maar net ‘n paar van die briljante vertalers wat vir ons die King James Bybel gegee het. Twee boeke is oor hulle geskryf, nl. Translators Revived van Alexander McClure en The Men Behind the King James Version van Gustavus Paine.
Is daar vandag enigsins sulke begaafde mense onder die Bybelkorrigeerders van die 20ste eeu? Hierdie King James Bybel het in die jaar 1611 verskyn en dit was presies 2000 jaar nadat die Ou Testamentiese Kanon in 389 v.C. voltooi en afgesluit is. Die hand van God was so duidelik en ooglopend te sien in hierdie Engelse Bybel. Engels is vandag nog die bekendste internasionale taal op aarde. In byna elke land op aarde is daar mense wat Engels magtig is. Dit was verder ook juis die King James Bybel van 1611 wat kort daarna en in die daaropvolgende meer as 300 jaar kragtig en met groot vrug gebruik is in sendingaksies oor die wêreld heen. Bekende Godsmanne soos John Bunyon, Jonathan Edwards, John en Charles Wesley, George Whitefield, Charles Finney, Hudson Taylor, Dwight Moody, Charles Spurgeon en talle ander het net hierdie Bybel gebruik en honderde duisende siele is gewen vir die koninkryk van God. Dit was juis in hierdie tye dat God die wêreld met groot herlewings kom seën het. Dit was gebeurtenisse ongekend aan wat ons vandag beleef. Vandag sit ons met hope nuwe vertalings van die Bybel wat sogenaamde makliker verstaanbaar en meer leesbaar is. Al wat ons geslag egter beleef, ten spyte van al die nuwe Bybelvertalings, is net meer en meer verval en afval van God se Woord. In hierdie eeu alleen het twee wêreldoorloë plaasgevind, atoomwapens is ontwerp, ‘rock & roll’ musiek het te voorskyn gekom, dwelmgebruik en die handel daarin het die hoogte in geskiet, aborsies is oral gewettig, pornografie is vryelik beskikbaar, seksueel oordraagbare siektes het kommerwekkende afmetings begin aanneem, growwe misdaad het wêreldwyd ontplof, Christelike kerke loop oral leeg, Oosterse godsdienste is in die Weste verwelkom, drankmisbruik het wêreldwyd toegeneem, bedrog en korrupsie is oral (ook op regeringsvlak) meer die norm as die uitsondering. Wat het al die nuwe vertalings van die Bybel gedoen om hierdie vloedgolf te keer. Persoonlik glo ek dat dit net verder meegehelp het hieraan. Om God se Woord te verdraai, bring vinnige en drastiese oordeel en die ergste lê nog voor die deur.
Is dit nie dalk so dat die dag toe die 1983 Bybelvertaling in Suid-Afrikaanse kerke toegelaat is, dit die begin van die einde vir hierdie land van ons ingelui het nie? Dit is net ‘n vraag. Gaan dink en bid daaroor.
Die nuwe Afrikaanse vertaling was dus nie net ‘n opdatering van die ou weergawe nie. Nee, dit is ‘n gans ander vertaling vanuit gans ander grondtekste. ‘n Sogenaamde dinamiese ekwivalentmetode van vertaling is gebruik i.p.v. ‘n letterlike vertaling. Ons wat die gebruik van die 1933/1953 vertaling voorstaan is dus ook nie outyds of verkramp nie, maar eerder diep besorg oor die voortbestaan van die ware Woord (sien Heb. 13:7-9a).
Daar is sedert die begin van hierdie eeu letterlik honderde nuwe Bybelvertalings wat die lig gesien het. Dit het die sondebelaaide verblinde mensdom net verder kom verwar. God is egter nie ‘n God van wanorde nie – ver daarvandaan. Hierdie is verseker nie sy manier om die mens te help om sy Woord makliker en beter te verstaan nie. Die verskille is drasties en saai veel eerder twyfel by ongelowiges sowel as by die talle kleingelowiges.
Kyk wat sê die Time tydskrif van 20 April 1981, p. 62: “Never in history has such doubt and confusion over the Bible existed as is today. And nothing has flamed the fire of confusion and doubt over the Bible more than the scores of different translations flooding the scene.” ‘n Mens kan met toe oë sien wie agter al die nuwe vertalings sit. Ek glo egter wel dat baie vertalers onwetend in die strik van die duiwel getrap het.
God het net een Woord en dit is foutloos bewaar in die oorspronklike grondtekste, nl. die Masoretiese Hebreeuse grondteks (Ou Testament) en die Textus Receptus Griekse grondteks (Nuwe Testament). Hierdie twee staan ook saam as die Textus Receptus bekend. Die King James Bybel in Engels is die suiwerste vertaling wat vandag beskikbaar is en die ou Afrikaanse vertaling is ook ‘n Goddelike gawe aan ons. Hier en daar is woorde wat met beter alternatiewe vertaal kon word, maar in sy geheel is hierdie en ook ander vertalings in ander tale, wat op die regte grondtekste gebaseer is, die ware Woord van God – sy Brief aan die mens met die ewige verlossingsplan daarin vervat.
Die probleem is dat die mens nie wil buig voor God se letterlike Woord nie. Daarom sukkel Christene ook om geestelik te groei. Hulle soek vertalings wat sag is op sonde en wat sekere dele dan soveel ‘mooier’ stel. (Pasop vir Die Boodskap wat tans so gewild is. Ons kan ons nie eens indink hoe God gaan reageer op hierdie storieboek oor sy versoeningsplan met die mens nie. Die weglatings en byvoegings is skrikwekkend. Hierdie boek verklaar in 2 Kor. 5:21 dat God sy sondelose Seun, Jesus Christus – die onbevlekte Lam van God, in ‘n sondaar verander het. Dit lees: “Tog het God Hom daar aan die kruis in ‘n sondaar verander.”). ‘n Mens word koud as jy dink waarmee hulle nog vorendag gaan kom – en wees verseker daar kom nog! Om baie Bybelvertalings te hê mag mense beïndruk, maar om in volgehoue gehoorsaamheid met Christus te wandel en om te buig voor sy onveranderlike Woord is al wat God uiteindelik behaag. Die ernstige opregte Bybelstudent wat leef “van elke woord van God” (Luk. 4:4) sal sonder twyfel moet ag gee op die Bybelvertalingkwessie. So ‘n kind van God kan nie sê dat hierdie hele saak hom nie aangaan nie. Of is jy bereid om dit voor die regterstoel van Christus vir Hom te sê – vir Hom wat deurboor is vir jou sonde?
Sal u vandag soos iemand met ruggraat vir God en sy saak op aarde opstaan of moet Gods water maar oor Gods akker loop? Kan u vandag saam met Paulus verklaar: “Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.” (Gal. 1:10).
q “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” (Open. 3:22).
Hoofkeuselys | Verskille tussen die 1983 en 1953/1933 vertalings | Redes vir die verdraaiing van die Woord