Deel 5

 

Verskille tussen die 1983 en die 1933/1953 vertalings

(Sluit ook in van die wat reeds genoem is)

 

Ou Testament

 

Gen. 43:34

“En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.” (1933/1953).

“Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword.” (1983).

Josef was nie ‘n dronklap nie, maar ‘n ware man van God en ‘n tipe van die Here Jesus Christus wat sou kom.

 

Ps. 22:17

“ ...‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.” (1933/1953).

“Die bende kwaaddoeners sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas.” (1983).

Hierdie is ‘n Messiaanse profesie wat wys op Christus se hande en voete wat met spykers deurboor sou word. Nêrens lees ons dat hy vasgebind is nie. Dit is ‘n growwe verdraaiing.

Hy moes deurboor word sodat sy bloed vir ons sondes kon vloei.

 

Jes. 7:14

“Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar... ” (1933/1953).

“‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring...” (1983).

Dit is ‘n wonderwerk as ‘n maagd swanger word, maar beslis nie as ‘n jong vrou swanger word nie. Laasgenoemde gebeur elke dag dwarsoor die wêreld. Hierdie Messiaanse profesie word hierdeur heeltemal verflou en dit kan op enige mens se geboorte dui.

 

Dan. 7:13

“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens ... ” (1933/1953).

“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese.” (1983).

Hierdie heerlike verwysing na die wederkoms van Christus word totaal uitvertaal. Dit is daar om hoop te gee in die swaar tyd wat voorlê. Hierdie ‘iemand soos ‘n menslike wese’ kan die Antichris ook wees.

 

Miga 5:1

“En jy, Betlehem Efrata, ... uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” (1933/1953).

“Maar jy, Betlehem-Efrata, ... uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede.” (1983).

Jesus Christus was van altyd af. Hy kom uit die voortyd – voor daar tyd was – uit die ewigheid. Beslis nie uit die gryse verlede nie. ‘n Eeu gelede is ook vir ons nou die gryse verlede. Hy gaan verder ‘n Heerser wees in Israel in sy duisendjarige Koninkryk.

Sag. 12:10

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het.” (1933/1953).

“Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het.” (1983).

Jesus is nie doodgesteek nie. Dit is ‘n skokkende verdraaiing. Hierdie woorde kan Jodehaat verder aanwakker – daar is reeds mense wat sê dat hulle Christus vermoor het. In Luk. 23:46 sien ons dat Hy self sy lewe oorgegee het. In Joh. 19:33, 34 lees ons baie duidelik dat Hy reeds dood was toe die spies in sy sy gesteek is.

 

Sag. 13:6

“En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daar tussen jou hande? Dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende.” (1933/1953).

“En as iemand vir die profeet sê: ‘Wat se wonde het jy dan op jou bors?’ sal hy antwoord: ‘Iemand het my so geslaan in die huis van my vriende.’” (1983).

Ons lees nêrens in die evangelies dat Jesus op sy bors geslaan is nie, maar wel dat sy hande deurboor is. Sy rug is wel ook geslaan. Hierdie vers sal die skeptici net verder laat twyfel.

 

Pred. 10:2

“Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van die dwaas is na links.” (1933/1953).

“Die verstand van een wat wysheid het, gee hom krag, maar die van ‘n dwaas maak hom swak.” (1983).

Onherkenbaar verdraai. Hierdie vers moes noodgedwonge polities korrek verander word vir die nuwe SA wat op hande was. Regs dui op behoudendheid en links op bandeloosheid. Jesus sit nou bv. aan die regterhand van die Vader.

In Jes. 49:1-7; Jes. 53:1-12 en Jes. 61:1 lees ons talle profesieë oor Jesus se koms na die aarde. In die ou vertaling word woorde soos HERE, Hom, Hy, My, Kneg, U en Regverdige spesifiek met hoofletters vertaal om aan te toon dat dit oor die komende Christus gaan. In die nuwe vertaling is dit alles in kleinletters geskryf – geen verwysing na Christus wat sou kom nie of dat Hy God is nie. Wat wou hulle hierdeur bereik? Ja, selfs die beminde Jes. 53 het deurgeloop. Watter betekenis sou die woorde, “soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af” (Luk. 1:70), dan nog enigsins hê as die Ou Testamentiese profesieë oor Christus so verduister is?

 

Nuwe Testament

In die Nuwe Testament is 16 volledige verse uitgelaat en nog ‘n paar so te sê volledige verse. Let gerus daarna op dat die nuwe vertaling bv. ‘n Matt. 18:10 het en net daarna ‘n Matt. 18:12. Matt. 18:11 is heeltemal uitgelaat. Hierdie vers bevat egter die sentrale tema van die hele Bybel, nl. “Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.” Sou God hierdie vers as onbelangrik beskou? Die nuwe vertaling verskil grootliks van die ou vertaling, maar as dit dan ‘n beter grondteks is wat gebruik is, waarom behou hulle nog die ou versnommeringsisteem.

Die weggelate verse in die Nuwe Testament is:

Matt. 6:13 – laaste deel van Onse Vader

Matt. 17:21 – teks oor vas en gebed

Matt. 18:11 – reddingsteks

Matt. 23:14 – skrifgeleerdes vermaan!

Matt. 27:35 – profetiese teks (kern weg)

Mark. 7:16“as iemand ore het ... ”

Mark. 9:44 – teks oor hel

Mark. 9:46 – teks oor hel

Mark. 11:26 – teks oor vergifnis

Mark. 15:28 – vervulling van Skrif

Luk. 9:56 – reddingsteks (kern weg)

Luk. 17:36 – wegvoeringsteks (wederkoms – vergelyk 1 Thess. 4:16, 17)

Luk. 23:17

Joh. 5:4

Hand. 8:37 – reddingsteks

Hand. 24:7

Hand. 28:29

Rom. 16:24

1 Joh. 5:7 – teks oor drie-eenheid (vers 8 is in twee gedeel om ‘n baie kort vers 7 te verkry)

Onderaan hierdie bladsye is egter ‘n nota gemaak dat hierdie verse nie in die gebruikte grondteks voorkom nie. Die gedeelte in Mark. 16:9-20 word ook aangedui dat dit nie in die gebruikte grondteks voorkom nie, maar tog is hierdie 12 verse ingesluit. Hoekom dan so inkonsekwent? Sou dit darem net te veel wees om so ‘n groot gedeelte ook weg te laat? Wys dit hoe korrup die grondtekste werklik is? Dieselfde het gebeur met nog 12 verse vanaf Joh. 7:53 tot Joh. 8:11. Hulle is daar, maar skep verwarring by die Christen as gelees word dat hulle eers later bygevoeg is.

Die volgende kernbelangrike woorde is ook weggelaat (hierdie is net enkele voorbeelde – daar is talle meer):

Die gedeelte in Matt. 20:16 dat “baie is geroep, maar min uitverkies.” is ook weggelaat uit die nuwe vertaling.

Matt. 24:8 in die nuwe vertaling lees: “Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd (vergelyk nou hiermee ‘n gedig van die nuwe era ‘Christus’, die sogenaamde Lord Maitreya, met die titel The New Time) in plaas van die korrekte: “al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte” soos in die standaard vertaling. Hierdeur word ‘n totaal ander betekenis en strekking aan die hele profetiese rede gegee. Dit dui veel eerder op ‘n nuwe tyd van vrede hier op aarde soos veronderstel in die nuwe Suid-Afrika, terwyl presies die teenoorgestelde eintlik waar is. Smarte kan wel ook as geboortepyne vertaal word, want dit dui op die tekens van die tye wat al hoe meer intensief en ook in hoër frekwensie sal plaasvind soos die wederkoms nader kom.

In Mark. 1:2 vind ons ‘n LEUEN in die nuwe vertaling. Daar lees ons: “In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak.” Vriende, hierdie profesie oor Johannes die Doper staan nie in Jesaja nie, maar in Mal. 3:1. Die God van die nuwe vertaling lieg dus. In Num. 23:19 en Titus 1:2 lees ons egter duidelik dat God nie kan lieg nie. As God hieroor sou lieg, hoekom nie ook oor ons verlossing nie? In Mark. 1:3 eers vind ons die profesie uit die boek Jesaja. Is die nuwe vertaling deur die Heilige Gees (die Gees van die waarheid) geïnspireer? Die ou vertaling is heeltemal korrek as dit sê: “Soos geskrywe is in die Profete: ... ” – meervoud (Mark. 1:2).

In Luk. 11:4, in die Onse Vader gebed, is die belangrike woorde, “maar verlos ons van die Bose”, onverklaarbaar weggelaat. Hoekom sou dit wees? Moet ons dalk nie van die Bose verlos word nie?

In 1 Kor. 15:8, in die nuwe vertaling, word baie vreemd na Paulus se geboorte as ‘n “misgeboorte” verwys. ‘n Misgeboorte is mos ‘n miskraam. Jesus het nie aan ‘n misgeboorte verskyn nie. Paulus was seker die grootste Godsman van die hele Kerktydperk. Is Paulus se lering dalk te reguit vir sommiges? Die ou vertaling praat van Paulus as die “ontydig geborene” – m.a.w. hy is weergebore na die ander apostels.

In 1 Kor. 15:47 verklaar die nuwe vertaling dat “die eerste mens” uit die aarde is en “die tweede mens is uit die hemel.” Verwysende na Adam en Christus. Jesus Christus was egter nie ‘n mens uit die hemel nie, maar God self wat mens geword het op aarde. Die ou vertaling is korrek as dit sê: “die tweede mens is die Here uit die hemel.”

Die deur word wawyd oopgemaak vir die Antichris om te verklaar dat hy ‘n mens uit die hemel is.

In Open. 1:11 is die lieflike woorde: “Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste” uitgelaat. Hoekom?

In Open. 14:20 is die woorde “tweehonderd myl ver” verander na “sestienhonderd kilometer ver”. Dit verwys na die slag van Armageddon en hierdie vallei is wel tweehonderd myl lank – dit is ‘n geografiese feit.

In Open. 21:16 lees ons oor die afmetings van die Nuwe Jerusalem. Die ou vertaling noem dit as “duisend-vyfhonderd myl” en die nuwe vertaling praat van “twaalf duisend kilometer”. ‘n Redelike verskil om die minste te sê. Watter verwarring vir ‘n skeptiese ongelowige wat vertalings sou vergelyk.

In Luk. 21:36 lees ons die lieflike belofte van die wegvoering of wegraping van die kinders van God (vergelyk 1 Thess. 4:16,17) – dat ons “al hierdie dinge wat kom ... kan ontvlug”. Dus die ontvlugting van die groot verdrukking wat op hande is. Die nuwe vertaling sê egter ons moet behoue deur alles deurkom – deur die groot verdrukking. Dit is onwaar.

&Aelig; (Sien Bylae A vir ‘n nog meer volledige lys weglatings en verdraaiings)

 

DIE GROOTSTE AANSLAG IN DIE GESKIEDENIS

By verre die grootste aanslag wat die Satan teen God loods, doen hy deur die Woord self aan te val. Hy wil dit in algehele diskrediet by die mensdom bring, want dan hoef niemand enige werklike waarde aan die Woord te heg nie. So sal dan geglo word dat almal maar salig is, dat niemand regtig sonde doen nie en as iemand wel sondig, sal hy nog steeds die hel kan ontvlug – met of sonder Christus. Die ganse profetiese woord sal dan ook sonder meer eenkant toe geskuif kan word asof dit maar alles net blote spekulasie is. Die duiwel is die een wat die woorde van die Here kom steel sodat die mense nie glo en gered word nie. Daarom is dit so belangrik dat ons seker maak ons gebruik die regte Bybelvertaling. Ek kan al sien hoe baie verwaand glimlag, want hulle glo nie in so iets as ‘n ‘regte Bybelvertaling’ nie.

Talle ‘wyse Skrifgeleerdes’ in ons dag glo inderdaad glad nie in die Woord van God nie. Hulle wil dan ook bitter graag die mensdom wys maak dat ons tans geen ware foutlose weergawe van God se Woord in ons midde het nie. Hulle sal lang relase hou oor hoekom daar allerhande foute in die Skrif voorkom. Volgens hierdie mense is die mens se aandeel in die vertaling van die Bybel van so ‘n geweldige aard dat daar te alle tye foute in ‘sal voorkom.’ Hulle sal wel sê dat die ‘hele’ Skrif deur God ingegee is, maar eintlik beteken dit niks vir hierdie geleerdes nie. Hulle glo beslis nie in die algehele Goddelike volmaakte bewaring van die Woord nie. Die bekende woorde in Matt. 5:18 word heeltemal deur hierdie ‘wyses’ misken: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet [woord] ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” Jy moet in hierdie mense se oë net eenvoudig te naïef wees om hierdie woorde van die Here Jesus te glo. Paulus het egter die gemeente van Thessalonika geprys en God ook daarvoor gedank dat hulle die woorde wat hy aan hulle verkondig het “aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God”. (1 Thess. 2:13).

In die tyd waarin ons leef egter, is daar weinig Protestantse teoloë en Christene oor die wêreld heen wat glo dat dieselfde God wat die ganse heelal in perfekte balans hou, wat die volmaakte verhouding tussen suurstof en stikstof in ons atmosfeer elke oomblik so behou dat die mens kan asemhaal en lewe, wat die mens se hart slag vir slag laat klop, wat die gras op die veld laat groei en trouens die hele natuur op aarde wonderbaar en volkome in sy hande hou – dat hierdie God ook in staat is om sy eie woorde, wat sy boodskap aan die mens (die kroon van sy skepping) bevat, suiwer en volmaak sal kan bewaar van geslag tot geslag. Hulle kan dit nie glo nie. Die God wat ek dien, kan dit verseker doen. Is daar nie dalk sommiges wat ‘n verkeerde god dien nie?

En durf jy as Godvresende Christen dit nou net sou waag om God en sy Woord te verdedig, dan kom hierdie mense en wil hulle weereens die mens verdedig. Eintlik glo talle van hierdie mense dat die mens eintlik god is, alhoewel hulle dit nie in soveel woorde sal sê nie. Nuwe tegnologiese uitvindings van die mens, aan die anderkant, word besonder hoog aangeslaan en aangeprys, maar die God van die heelal is nie in staat om sy eie woorde geheel en al te bewaar nie. Watter belaglike redenasies en verdraaide sienswyses het die onbekeerde mens nie. Die mens het gedink die rekenaar, met sy absoluut ‘onbeperkte moontlikhede’, is sy wonderlikste uitvinding en die ongetwyfelde hoogtepunt van sy wysheid. Die mens het gedink: ‘nou is niks meer vir my onmoontlik nie’ – totdat die Jaar 2000 Rekenaarkrisis sy verskyning gemaak het. Dit is so duidelik deel van God se plan met, en oordeel oor die sondige mensdom. Oor bietjie meer as ‘n jaar sal ons weet hoe ‘slim’ die mens toe in werklikheid was. Verander God nie elke keer die sogenaamde wysheid van die mens in totale dwaasheid nie? Het sy eie hooghartige hart hom uiteindelik ingehaal? Dit is juis omdat die mens nie wil ag gee op die Goddelike Woord nie dat hy in dwaasheid verval en uiteindelik ook die ewige verderf tegemoet sal gaan.

Jesus Christus het gesê: “Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.” (Joh. 12:48). As sy Woord ons gaan oordeel en God is ‘n geheel en al regverdige God, dan moes Hy darem ook aan die mensdom van die laat 20ste eeu ‘n volmaakte weergawe van daardie Woord bewaar het. Ons kan met ‘n geruste hart weet dat Hy dit wel ook gedoen het. Niemand gaan God se Woord ontglip nie.

Hoofkeuselys | Die Sataniese aanslag teen die Woord van God | Oorsprong van die grondtekste