Deel 4

 

Die Sataniese aanslag teen die Woord van God

 

“Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het en hy sê vir die vrou: ‘Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie. En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: “Julle mag nie daarvan eet nie en dit nie aanroer nie anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie, maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Gen. 3:1).

Om aan u die leuen en die verdraaiing van God se Woord in die nuwe vertaling uit te wys, gaan ons nie by die nuwe vertaling begin nie, want die Prediker sê vir ons “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuut onder die son nie.” (Pred. 1:9). Om hierdie rede het ons by Gen. 3 begin, want u sien, reeds daar is die Woord van God die eerste keer aangetas. Dit is so met reg dat ons geleer word dat die sondeval gekom het deur ongehoorsaamheid, ten eerste, en ten tweede deur die eet van die verbode vrug. Dit was egter bloot uitvloeisels daarvan dat die woord van God in die tuin van Eden aangetas is en ons wil drie wyses van aantasting aan u uitwys: Die modus operandi waarvolgens die satan, die vader van die leuen, van die begin af gewerk het.

Die eerste aantasting wat ons vind is dat die Woord van God bevraagteken word. Die Woord word bevraagteken wanneer die slang kom en sê: “Is dit ook so dat God gesê het”. God het dit verseker gesê. Dit is nie nodig om die vraag te vra nie, maar om die twyfel te saai, het hy dit gedoen en ons weet dat toe die twyfel in Eva se hart gesaai was, het die sonde toegetree. Vandag is dieselfde tendens aan die orde deurdat die vraag, ‘sou God dit gesê het’, steeds oor die Woord van God gevra word. Daar is ‘n vak op universiteit wat Segskritiek genoem word, en in hierdie vak kom hierdie selfde vraag weer voor: ‘Het God dit regtig gesê?’ Daar word gesê dat die boek Genesis nie in die Bybel tuishoort nie – die skeppingsverhaal is ‘n mite. Dit is nie ‘n ware feit nie en hulle bevraagteken dit, want u sien, dit pla diegene wat in evolusie glo.

Die boek Jona hoort ook blykbaar nie in die Bybel nie, want hoe is dit dan nou moontlik dat ‘n vis ‘n man sou insluk, word geredeneer. So ook nie die boek Job nie, want u sien, in Job 1 kom dit baie duidelik na vore dat die duiwel leef en dat daar ‘n stryd is en van vandag se geleerdes sê daar is nie ‘n duiwel nie en dus ook nie ‘n hel nie. So sien ons dat die vraag vandag nog net so lewendig is.

Die tweede ding is dat die Woord van God blatant verdraai word in Genesis. Die Here God het gesê dat hulle van die boom in die middel van die tuin nie mag eet nie, maar die Satan kom en vra of God gesê het: “Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Hy verdraai die woord net met twee woorde, nl.die woord al en die woord nie. As ek na die Woord van God kyk, dan sien ek dat God se woord kragtig is om te red en te genees en te herstel, maar ons vind dat in die tuin van Eden, nadat die Woord besoedel is, dit sy krag verloor het in die lewens van Adam en Eva. Want u weet, God se Woord kon die sondeval gekeer het as dit skoon en suiwer gebly het. God deel egter sy eer met niemand nie. God laat ook nie toe dat Sy Woord besoedel word nie en daarvan kan ons lees in Spr. 13:13, “Wie die Woord verag, moet dit ontgelde; maar hy wat die gebod vrees, ontvang vergelding.”

Die derde wyse waarop Satan die Woord van God verdraai het, is dat hy God blatant ‘n leuenaar genoem het. Hy het gesê: “Julle sal gewis nie sterwe nie;” – m.a.w. ‘julle kan maar eet van daardie boom. Luister na my.’

Dit is die drie basiese wyses waarop Satan die woorde verdraai in die tuin van Eden en ons sal al drie vir u toon in die nuwe vertaling – dat die Woord van God bevraagteken is en dat dit blatant verdraai is en dat hulle God tot leuenaar maak as God bv. sê dat sy Seun self God is en veel meer.

Dan kom God en hy waarsku ons teen valse evangelies in ons dae en ons lees in Gal. 1: 6, 7 die volgende: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van Hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.” Dwarsdeur die eeue wou die mense die Woord van God verdraai, maar God waarsku ons dat ons moet waak. Die plig van elkeen is om die evangelie te verdedig en daarom roep die Here ons daartoe op in Fil. 1:27. Dit is ‘n goddelike opdrag – nie een kind van God word verskoon nie. Die Here is nie ‘n aannemer van die persoon nie.

As ons die leuen en verdraaiing wil uitwys, dan moet ons eers stellings maak – leerstellings. Ons moet ‘n stelling maak, anders het ons niks om op te staan nie. Die Woord van God sê in Luk 16:13 die volgende: “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal of die een haat en die ander een liefhê, of die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie.” Ons sal dus moet besluit of God net een Bybel geskryf het, veral in die lig van II Tim 3:16,17 waar ons lees: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Daar is geen rede waarom God twee bybels sou inasem nie. Kom ons kyk na die Engelse taal. Daar is reeds meer as 200 bybelvertalings en elkeen verskil van die ander een. Ek vra vir u: As God nou al 200 ingeasem het, met respek aan my Verlosser, wanneer gaan God ophou om Sy Woord te verander, want in hierdie bybel sê hy so en in daardie bybel sê hy so. En as dit dan so is dat God al 200 ingeasem het, dan wil ek vir u vra om God te vra om nie u geredde toestand te verander in die nag terwyl u slaap nie, want as God sy gedagtes omtrent sy woord kan verander, dan kan God sy gedagtes omtrent u en my ewige lotsbestemming ook verander.

U sien dit is ‘n aantasting van God se godheid, want sy ja, bly vir ewig sy ja en sy nee, sy nee!

Die tweede stelling wat ons wil maak is dat, indien ‘n vertaling nie aan II Tim 3:16, 17 voldoen nie, dit dus nie van God kan wees nie en daarom van die duiwel. U sien ons sal moet kies of vir God of vir die duiwel. Die Here sê vir ons in die Skrif: “omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” (Open. 3:16). Daar is nie ‘n middeweg by God nie. So die Bybel is of van God of dit is nie van God nie, en as dit nie van God is nie, dan is daar net een ander moontlike outeur, naamlik die duiwel.

Ons derde stelling: So ‘n vertaling wat God se Woord verdraai, is ‘n gruwel en ‘n sonde en daarom ‘n vervloeking. Ons is baie geneig om te sê om te steel, of te verkrag of te moor is ‘n gruwelike sonde in God se oë. Maar wanneer ons kom by die Woord van God wat ernstig verdraai word, wil ons dit met sagte woordjies regverdig en goedpraat. Nee, dit is ‘n gruwel in God se oë om sy Woord aan te tas. In Gal. 1:8 sê die Skrif: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” Die saak is so ernstig dat net die volgende vers weer hierdie woorde herhaal. Die vraag is hoe lyk die evangelie van die nuwe Afrikaanse vertaling?

Kom ons bewys nou ons stellings.

Ons kyk kortliks na die kerkvaders van die vroeër tye. Die Woord van God kom vanuit ‘n groep manuskripte wat bekend geword het as die Textus Receptus manuskripte en die vervalsings kom vanuit die Vaticanus, Sinaïticus en Alexandrynse manuskripte (dit is Roomse tekste).

Die vaders van die vervalsing en besoedeling van God se Woord was Clement van Alexandrië (in Egipte) en sy leerling Origenes. Hierdie manne was filosowe – hulle het gesê ons kan nie (en dit staan in geskiedenisboeke) die Woord van God deurgee so suiwer as wat dit gekom het nie. Ons sal dit inkleur sodat dit aanvaarbaar is – en hulle het dit ook gedoen. Kom ons kyk na wat hulle geglo het. Hierdie Clement en Origenes het geglo dat plante en bome siele het (net soos die nuwe era aanhangers vandag) – hulle het geglo en gepropageer dat die duiwel tot bekering kan kom – hulle het nie gelees dat God geskryf het dat Hy die hel geskape of geskep het vir die satan en sy engele nie. Hulle glo dus nie in die Skrif nie en sê hy kan tot bekering kom. En ook het hulle gesê dat Christus die laaste god is wat geskape is – hy is ‘n geskape wese en hy is die swakste van almal en daardie tendens het ons vandag nog. Ons sien dit in die Jehowa Getuies. So dit is die mense wat die Woord van God verdraai het.

(Sien Deel 6 vir ‘n deeglike bespreking oor die oorsprong van die grondtekste).

Murray Janson het ‘n boek geskryf: ‘Sodat ons weer waarlik kerk kan wees.’ Prof. Janson sê daarin dat Origenes ‘n geweldige invloed gehad het op die ontwikkeling van die prediking in die kerk. Ongelukkig nie altyd ‘n goeie invloed nie. Hy wou naamlik ‘n brug slaan tussen die heidense leer van sy tyd en die Christelike geloof en het toe die allegorie uit die heidense retoriek die kansel opgedra. Murray Janson erken self dat hierdie ‘kerkvader’ heidense geloof in die Christelike kerk ingedra het. Die Woord van God sê vir ons in Jer 17:5: “So sê die HERE – vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.” En onder hierdie vloek het Origenes en Clement hulleself geplaas deur hulle ongehoorsaamheid.

Die ‘dinamiese ekwivalent’ metode was die tipe vertaalwyse wat gebruik is in die daarstelling van die nuwe vertaling. Hierdie mense het gesê ons sal vir die mense sê wat ons dink dat God bedoel. Hulle het die woord van God begin verklaar. Hulle sê byvoorbeeld dat in sekere gevalle ons nie ‘n Bybel kan uitreik met die metafoor van die lam of skaap daarin opgeteken nie. Aangesien die bewoners van die yslande nie ‘n skaap ken nie, sal hulle dit dus nie kan begryp nie. Die metafoor van die lam of skaap in die Bybel word dan eerder vervang deur bv. ‘n otter, want die yslandbewoners jag ‘n otter en hulle eet dit ens. Hulle ken die eienskappe van ‘n otter en daarom moet dit in hulle bybel ingesit word. Kan en mag ons dit egter doen? ‘n Skaap het twee besondere karaktertrekke: hy het ‘n swak karaktertrek, dit is van toepassing op u en my, want die Here sê ons het almal gedwaal soos skape en elkeen het sy eie weg gevolg en dit het Christus aan die kruis gekos om ons terug te bring. So ons kan nie die skaap om ons eie ontwil uit die Bybel haal nie. Die skaap het ook andersins ‘n edele betekenis – dit dui op die Lam van God. Dit is tiperend van Christus Jesus, want as ‘n mens ‘n skaap slag, skreeu hy nie en hy byt nie en hy skop nie en net so het ons Here Jesus vir ons na die kruis gegaan. So, nooit kan ons die skaap uit die Bybel haal nie. Maar u sien dit is ‘n humanistiese vertaling – dit is ‘n horisontale godsdiens wat gepropageer word. Ons het nie meer ‘n God nodig nie, ons preek nou sommer van die mens tot die mens.

Dit is baie makliker en ons maak nie meer gevoelens seer nie. Ook sê hulle byvoorbeeld dat Openbaring 3:20 nie in die Bybel behoort te wees nie, want daar is ‘n stam iewers in Amerika wat sê dit is net ‘n skelm wat aan die deur klop. Ons kan nie in die Bybel sê soos die Here Jesus sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop” nie, want dan is hierdie Here Jesus ‘n skelm volgens hierdie mense.

Hulle sal hulle gewoontes moet verander, want hulle kan nie van die Here Jesus verwag om net in te storm nie. Dit is die duiwel wat instorm. God klop. God trek met koorde van liefde, daarom kan hulle nie die Bybel verander soos hulle wil nie – hulle sal moet verander. Jesus Christus kan nooit verander nie (Heb. 13:8).

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die kerkvaders van vandag en wat hulle rede is hoekom hulle hierdie korrupte en aangepaste manuskrip gebruik het.

Die eerste rede wat hulle gee is dat dit die oudste manuskrip is. Dit is egter ‘n leuen, want die oudste manuskripte is lank gelede reeds opgebruik. Die mense het nie fotostaatmasjiene en drukperse gehad nie – dit was geskryf op perkamente en as dit klaar gelees is, is dit oorgeskryf. So hulle eerste rede vir die gebruik van die Sinaïticus teks berus op ‘n leuen. Die tweede rede wat aangevoer word, is dat die gebruikte manuskrip die beste beskikbare een is. Waaroor gaan die Woord van God. Ten eerste gaan dit oor God, hoe groot is Hy en hoe magtig Hy is, ens. Tweedens is die Bybel daar om die sondige mens na God te bring. Met ander woorde die Woord van God is daar om God te verheerlik in al sy fasette. Nou sê die Woord van God in Mark 3:24 “en as ‘n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie.” Ons sal aan u wys dat die nuwe vertaling die Godheid van Christus Jesus in ‘n baie erge graad aantas en daarom kan dit nie die beste manuskrip wees nie, want dit tas die God van die Bybel aan.

Die derde rede, sê hulle, is dat die nuwe vertaling nie ‘n Roomse bybel of ‘n Jehowa Getuie bybel is nie. Ons sal ook daardie leuen aan die kaak stel.

Ons mense van vandag weet nie meer waarvoor staan die Rooms-Katolieke Kerk nie en daarom word daar valslik gesê dat hulle deel is van die liggaam van Christus. As ek vir u sê dit is ‘n Roomse bybel, dan moet u weet hoe ver en hoe laat hierdie Christendom al gedaal het as ons dit aanvaar in ‘n Protestantse kerk. Die Roomse Kerk vervaardig kruise met figure daarop wat veronderstel is om Christus Jesus te wees. Die Woord van God sê vir ons Hy was so geslaan dat Hy nie as ‘n mens geag is nie. Op hulle kruise lyk hy asof hy uit ‘n bad kom. Die Woord van God sê hy was nakend – hier is hy geklee. Dit is ‘n leuen. Die kerk van die Here Jesus Christus verkondig ‘n opgestane Here Jesus – hulle (die Roomse Kerk verkondig ‘n dooie Christus. Dit is ‘n totaal ander jesus en verseker ‘n valse christus wat hulle aanhang (sien 2 Kor. 11:4 en Matt. 24:4, 5). Het u geweet dat in hulle amptelike Katolieke Kategismus van 1992 (Latyn) en 1994 (Engels) verklaar hierdie kerk, in punt 841, dat hulle en die Moslems dieselfde god aanbid? Aanbid u ook hierdie god – Allah (die ou maangod)? Het u al opgelet na die maansimbole op al die vlae van die Moslemlande?

Ons kyk vir ‘n oomblik na die Roomse krale en hulle gebedsrituele.

Ek noem hierdie fase die hipnose fase. Die eerste kraal is ‘n ‘Hail Father’ en dan begin hulle in ‘n trans raak. Dan is daar drie ‘Hail Marys’ en dan weer een ‘Hail Father’ en dan is hulle gereed om die ‘Hail Mary’ op te sê. Hierna volg nog tien ‘Hail Marys’ – daar bestaan vele geskrifte oor presies hoe om die ‘Hail Marys’ te bid, en dan kry ons weer een ‘Hail Father’ en so gaan dit aan. Nege-en-sestig krale. Een kort van sewentig – die volmaakte, voltooide getal. Nie een kraal vir die Here Jesus Christus nie. 2 Pet. 2:19 sê vir ons dat “waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.”

Die kerk van die Rooms-Katolieke is oorwin deur moeder Maria en dan wil ek vir u sê dat die Maria van die Bybel ‘n heilige mens was, soos elke bloedgewaste kind van God, maar omdat daar net twee strome van kerke deur al die eeue heen was – die een die Babelse stroom van Babilonië en die ander die Bybelse of ware Christelike stroom, is die Roomse kerk nog steeds ‘n Baälse kerk – ‘n Babiloniese kerk en daarom het hulle die beeld van Maria aangeneem – juis omdat Satan alles na-aap wat die Here doen. Hulle het die ou Babiloniese godsdiens net ‘n Christelike kleed gegee. Hulle aanbid in werklikheid nie vir Maria nie, maar vir Semiramus (die ou hemelkonigin – Jer. 44:17).

Ons gaan aan u bewys dat die nuwe vertaling ‘n Roomse bybel is.

Ten eerste het die Roomse kerk in die 18e eeu moeder Maria se geboorte as ‘n onbevlekte geboorte geproklameer – m.a.w. soos Christus Jesus wat gebore is sonder sonde. Dit is ook ‘n leuen want Job sê vir ons ‘kan daar ‘n reine uit ‘n onreine gebore word ¼ nie een nie.’ Op 1 November 1950 het die Roomse kerk verklaar dat Maria liggaamlik opgevaar het na die hemel. In Gen. 3:15 lees ons “en ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt” volgens die Woord van God. Die woord saad is enkelvoudig, nie sade nie en die saad dui op Christus Jesus (Gal. 3:16) en in Gen. 3:15 vind ons die eerste vermelding van die vrymakende evangelie wat in die Woord van God opgeteken is. Dit is die liefde van God, want toe die sonde daar is, toe is die versoening ook daar – die belofte van die Messias wat sou kom. En dan sê hy: “Hy” (wat op Christus dui) “sal jou kop vermorsel” en Christus het dit gedoen op die kruis van Golgota – daar het hy die Satan se kop vermorsel.

Gen. 3:15 in die nuwe vertaling lees egter soos volg: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” Die woord saad wat op ‘n enkelvoudige Persoon moet dui, na Christus, is weg. Nou is dit nageslag wat op meervoud dui en waarna verwys dit – dit verwys na die Roomse kerk. Die woord Katoliek gebruik “ek” omtrent nooit nie, want dit is gesteel van die kerk van Christus Jesus. Die woord Katoliek beteken algemeen of universeel of selfs ‘enigste kerk’ en die Roomse Pous sê sy kerk is die enigste kerk en in sy nageslag (die Roomse kerk) is die verlossing van die mensdom opgesluit. Daarin is die verlossing. U sal vind in die nuwe vertaling is Christus nie meer die verlosser nie, maar die Roomse kerk. Die eerste stukkie vrymakende evangelie in die Woord van God is verkrag en verdraai. As ‘n mens na Gen 3:15 in die nuwe vertaling kyk, dan sal u nie die verlosser Jesus Christus daarin sien nie.

In Jes. 7:14 vind ons ‘n Messiaanse professie wat dui op die geboorte van Christus Jesus – ons lees daar “daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: kyk, die maagd sal swanger raak en ‘n seun baar en hom Emanuel noem”. Dan kom die nuwe vertaling en sê: “daarom sal die Here self vir julle ‘n teken gee: ‘n jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Emanuel noem”. Daar is geen vereiste dat ‘n jong vrou meer ‘n maagd sal of moet wees nie. As dit sou suggereer dat Maria bloot ‘n jong vrou was, kan dit verder ook inhou dat Josef Christus se vader kon wees. As Josef Christus se vader is, is hy nie meer God nie en dan het sy bloed geen reinigingskrag nie en dan het ons nie meer ‘n evangelie nie. Dit gaan nie net om ‘n woordjie nie, dit gaan ook oor die konsekwensies agter daardie woord. Weereens word Christus aangetas.

In Matt. 1:23 & 25 is die vervulling van bogenoemde profesie.

God se Woord:23“Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

25en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.”

Nuwe vertaling: 23maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.

25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.”

Nou staan daar in vers 25: “en hy het haar nie beken voordat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie en hy het hom Jesus genoem.” Ek wil vir u die woord eersgeborene uitlig: dit het twee betekenisse. Die eerste betekenis: alles wat eersgebore is behoort aan God, selfs die vee van die veld en daarom het God vir Esau gehaat omdat hy sy eersgeboorte reg geminag het. Die tweede betekenis van die eersgeborene is die van numeriese rangorde. Daarom lees ons in Matt. 13 en 14 dat Christus ander broers gehad het. Vyf broers en susters (wat dus na Hom gebore is), maar dit is nie so in die nuwe vertaling nie, omdat Maria volgens die Roomse kerk ‘n goddelike wese is. Sy is een van die drie persone in hulle drie-eenheid. Dit is God die Vader, dan Maria, die moeder van God en dan die Heilige Gees. En omdat sy ‘n heilige persoon is, is sy ‘n maagd selfs na die geboorte van Christus Jesus, sê die Roomse kerk en daarom kon sy nie nog ander kinders gehad het nie. Hulle ontken dit ten sterkste. Dit sou haar ‘n gewone vrou maak, maar nou is sy hulle God. Die nuwe vertaling bring wel die term maagd in Matthëus weer terug, maar in Jesaja is sy nie ‘n maagd nie. Nou sê hulle in vers 25: “hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie.” Die woord eersgeborene is weggelaat. Die verwysing daarna dat sy nog kinders moes gehad het, is net nie meer daar nie. In ‘n Roomse nuusblad, ‘The Southern Cross’, behandel hulle: “what Mary did at home.” Dan noem hulle die volgende in hierdie verband: “Family breakfast was a quick meal. Jesus, Mary and Josef usually ate bread ¼...”Hoeveel mense was teenwoordig by hierdie ontbyt tafel – net drie. Volgens hulle het Maria nie ander kinders gehad nie en twee duisend jaar later nog steeds die leuen dat Maria net vir Jesus gebaar het, want sy is net nog ‘n ander weergawe van die oeroue Babiloniese hemelkoningin, Semiramus. Die hemelkoningin het baie name deur die eeue gehad soos bv. Astarte, Isis, Diana, Fatima e.a.

Hulle het verder gegaan. Lukas 2:22 sê: “En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Jesus na Jerusalem gebring om hom aan die Here voor te stel.” Lev. 12:2: “As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees soos in die dae van die onreines as sy onwel is, sal sy onrein wees.” Daar is die rede waarom Maria eers op die agste dag opgegaan het – sy kon nie in die tempel inkom nie, want sy was onrein. Die ander rede is dat God bepaal het dat ‘n seuntjie op die agste dag die minste bloed vir die besnydenis gehad het. Maria kan nie onrein wees volgens die Roomse kerk nie en daarom skryf hulle dit so: “Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here gestel.” Ten koste van Christus Jesus het hulle haar eintlik rein verklaar, want nou wil hulle nie sê “haar reinigingstyd” nie – nou is dit “hulle” tyd van reiniging – hulle sê Jesus was een van hulle wat opgegaan het na die tempel toe en nou is die onbevlekte Lam van God ook maar onrein – solank Maria se lig net kan skyn.

Die Jehowa Getuies sê Christus is ‘n geskape wese – hy is nie God nie. Hulle sê selfs dat hy die engel Gabriël is. Alles, maar net nie God nie. Daar is iets van die Roomse kerk en van die Jehowas wat ek moet respekteer, nl. dat hulle “practice what they preach”.

Hierdie mense het hulle eie bybel gaan skryf omdat die regte bybel hulle nie gepas het nie.

Ek verwys u na die volgende boeke: ‘Die Jehowas weerlê’ van Ds. A. J. van Staden en Dr. Fritz Gaum se: ‘Die kettery van die Jehowa Getuies.’ Lees gerus wat hulle te sê het oor die Jehova Getuies. As hierdie dwaalleer dan so ver van die waarheid verwyder is (soos wat hulle wel is), hoekom is daar dan soveel ooreenkomste tussen hulle bybel (New World Translation) en die nuwe Afrikaanse vertaling van 1983? Is dieselfde grondtekste dalk gebruik?

Vervolgens ‘n verwysing na die voorwoord van die nuwe vertaling: “Aan die leser: Die vertaling van die bybel in Afrikaans wat hiermee aangebied word, is die vrug van vertaalwerk wat in 1970 begin is.” (Dit is onwaar. Hierdie vertaalwerk is in werklikheid begin op 13 Julie 1967 by Turfloop – die Universiteit van die Noorde).

“Die doel was ‘n vertaling wat rekening hou met die ontwikkeling in Afrikaans die afgelope jare en met die resultate van wetenskaplike ondersoek ” (Hierdie boek ontken die ingeskrewe woord en die werk van die Heilige Gees van God. Daarom vind u dat in die ware Bybel (1933/1953) staan geskrywe dat dit die ganse heilige Skrif met al die Kanonieke Boeke is. U sal dit nêrens in die nuwe vertaling vind nie. Hierdie is ‘n wetenskaplike, mensgemaakte boek.)

“...maar wat so getrou as moontlik aan die grondteks bly.” (Die woord “moontlik” beteken hulle het nie. Hoekom het hulle nie getrou gebly aan hulle eie grondteks nie?)

Ten eerste was daardie grondteks so korrup dat hulle nie daarby kon bly nie en tweedens was dit ‘n Roomse teks en die Roomse Kerk verhoog Moeder Maria nog meer as wat ek vir u uitgewys het in hulle eie bybel met die naam, ‘Douay.’

The New American Standard Version, wat ook vanuit die Roomse geskrifte kom, dit terwyl Amerika nog ‘n Protestantse land is, het 530 keer afgewyk van sy eie gebruikte grondteks en dus vanaf die teks wat die United Bible Societies so hoog aanslaan. Die New International Version (NIV) het 650 keer afgewyk van sy eie grondteks. Nou as ‘n grondteks so korrup is dat daar soveel keer afgewyk moet word daarvan, hoekom is dit hoegenaamd gebruik? Die duiwel het verseker ‘n doel daarmee. Die skokkende is nou net dat die nuwe Afrikaanse vertaling ook van die United Bible Societies se grondteks afkomstig is (3de uitgawe, 1975)!

Die totale verskil, van die nuwe vertaling in vergelyking met die standaard of ou vertaling – dit is nou verskil in woorde, punte en tekens wat weg en verdraai is (wat begrippe daardeur verander), kom neer op ‘n verstommende 8 674 in totaal. Soveel woorde kon ‘n hele boek op sy eie gewees het.

Kyk na die volgende ontstellende feite:

(Wie wil nog waag om te sê die Jehowas se bybel is korrup, as die nuwe vertaling dieselfde weglatings bevat?)

Die woord Jesus:

NIV - 30 keer uitgelaat

New World Translation (Jehowa Bybel) - 31 keer uitgelaat

Nuwe vertaling - 31 keer uitgelaat

Die woord Christus:

NIV - 43 keer uitgelaat

Jehowa bybel - 41 keer uitgelaat

Nuwe vertaling - 41 keer uitgelaat

Die woord Here:

NIV - 35 keer uitgelaat

Jehowa bybel - 24 keer uitgelaat

Nuwe vertaling - 24 keer uitgelaat

Dit wat die Jehowas uitlaat, laat die nuwe vertaling ook uit.

As Dr. Gaum vra waarom die Jehowas die Woord van God so verkrag, het ek die reg om te vra waarom vermink die vertalers van die nuwe vertaling die Woord van God so.

Wonderwerke: Ds. De Bruin skryf: “In hierdie nuwe bybelvertaling [van die Jehowas] het hulle eie magte die bybel gaan verander om by hulle sienswyses aan te pas. Die bybel is willekeurig verander en skrifgedeeltes wat in hulle leer nie inpas nie, is weggelaat”, sê hy van die Jehowas. Die Jehowas glo nie in wonderwerke nie. Nou vind ons in Deut. 7:20; Ex. 23:28 en Jos. 24:12 – in al drie hierdie gevalle, het dit God behaag om Israel te verlos met perdebye. Dit is ‘n wonderwerk van God. Dit wys op die grootheid en almag van God en in nie een van die drie gevalle sal u dit in die nuwe vertaling vind nie en ook nie in die Jehowa Getuies se bybel nie. Dit lyk vir my die vertalers van die nuwe vertaling glo ook nie in wonderwerke nie.

Christus se ewige bestaan in die Ou Testament word aangetas. Christus word vir ons in die Ou Testament getoon as Engel van die Here en dit word altyd met hoofletters geskryf. In die hele Ou Testament van die nuwe vertaling kom die Engel van die Here nie een keer in hoofletters voor nie, want dit gee vir Christus ‘n ewige bestaan en hierdie mense wil nie hê dat hy God moet wees nie. Jesus word ook geminag deur die Jehowas deurdat sy naam met ‘n kleinletter geskryf word. Volgens Dr. Gaum doen hulle dit omdat hulle nie in die godheid van die Seun van God glo nie – dieselfde geld vir die Heilige Gees – so het hulle die bybel verdraai om by hulle onchristelike leerstukke in te pas. Die tragedie is dat die nuwe vertaling presies dieselfde doen. In Gen. 32, waar Jakob met God worstel, staan die woorde ‘U’ en ‘Man’ met hoofletters geskryf in die standaard vertaling. In die nuwe vertaling egter lyk dit of Jakob sommer met een van sy slawe worstel, want dit is ‘n man, en jy en dit is jou. Die ironie van die saak is dat in die nuwe vertaling, waar hy met sy broer praat, spreek hy hom aan as u, maar as hy met God worstel, is dit jy en jou.

In Jes. 53 – in net hierdie een teksgedeelte word God 35 keer met kleinletters geskryf.

Christus se Messiaanse beeld is op hierdie manier totaal wegvertaal en so ook in Ps. 45:7 en 8.

God se Woord: 7“U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer. 8U het die geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.”

Nuwe vertaling: 7“U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas, met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied. 8U het die reg lief en u haat die onreg, want, verhewe wese, onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.”

Dit is God die Vader en God die Seun in gesprek.

Nou sê die nuwe vertaling: “U troon (kleinletters) verhewe wese (kleinletters)’ dit sê hulle van Jesus, (verhewe wese, kleinletters) – ‘n engel is ‘n verhewe wese – God is ver bo die engele – staan vir ewig en altyd vas met u koninklike septer (klein letters) (hulle kan sommer van Dawid of enige ander koning ook praat ) laat U geregtigheid geskied. En onder groot vreugde het U God u bo U tydgenote tot koning (kleinletter) gesalf.

U sien, Jesus mag nie ‘n ewige bestaan hê nie.

Die nuwe vertaling is ook ‘n New Age bybel en hulle duld nie Christus nie. Ons (die mens self) is mos ‘n god in eie reg.

Psalm 110:1

“Die Here het tot my Here (albei hoofletters) gespreek” (ou vertaling), dan sê die nuwe vertaling: “Die Here het vir my koning (klein letter) gesê...”

Die Woord van God: Die Here het tot my Here gespreek: “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.

Nuwe vertaling: Die Here het vir my koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” Dit is God die Vader in gesprek met die Seun, Jesus Christus. Geen Messiaanse beeld bly egter oor nie.

Hulle sê verder Jesus het ‘n begin gehad soos enige mens maar het. Kan dit wees? Sien die volgende twee teksgedeeltes.

Ps. 2:6, 7

“Ek tog het ek my Koning (hoofletter) gesalf, o Sion my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit. Die Here (hoofletter) het aan my gesê U (hoofletter) is my Seun (hoofletter). Vandag het ek U (hoofletter) gegenereer.”

Nou kom die nuwe vertaling: “Dit is ek wat hom (nie u nie, sommer hom) as my koning (kleinletter) gesalf het.” Die laaste gedeelte, vers 7, “Jy is my seun (kleinletter). Vandag het ek jou vader geword”.

Waar is die “EK IS’ van Moses en die “Kom laat Ons mense maak na Ons beeld” as God eers daar Christus Jesus se vader geword het (sien Ps. 2).

Miga 5:1

“En jy, Bethlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid”.

Dit is God, maar die nuwe vertaling së: “Sy begin lê ver terug in die gryse verlede”. Die gryse verlede dui op tydelikheid – ‘n verkeerde begrip.

Ons kyk na die Messiaanse opskrifte. U weet, die gedeelte wat bo-aan die teksgedeelte is, is nie Heilige Gees geïnspireer nie. Maar ek sê in my eenvoud dat toe die kinders van God die Woord van God vertaal het, het hulle uit respek en eerbied en vrees vir God dit daar geskryf. Nie eers daar ag die nuwe vertaling onse Here Jesus Christus nie.

Ps. 2

Stryd en oorwinning van die Messias (ou vertaling) en nuwe vertaling: Julle moet die Here met ontsag dien. Sê dit iets van ons Messias?

Ps. 110

Die Priester Koning (ou vertaling) – dit is waaroor dit gaan – oor ons Verlosser en dan sê die nuwe vertaling: Kom sit aan my regterhand.

Ps. 45

Bruiloflied vir die Messias sê die Woord van God, terwyl die nuwe vertaling praat van: ’n Gedig vir ‘n koning (klein letter k).

U sal waaragtig nie die Messiaanse deel van Christus Jesus in die Ou Testament van die nuwe vertaling vind nie.

Jesus se godheid word absoluut aangetas. In Joh. 1:27 lees ons in die ou vertaling:

“Dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het.”

Die nuwe vertaling: Dit is totaal weggelaat. Dit is die apostel wat daar praat en hy praat van Christus wat is en was en sal wees. Dit maak hom weer God en hulle ontken dit.

Die Woord van God sê op ‘n getuie van twee sal ‘n saak staan en daarom as God in een teksvers so iets sê, dan sal Hy dit in ‘n ander vers bevestig. Hand. 20:28: “Om as herder die gemeente van God te versorg wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (dit is wat God hier sê), sy eie bloed, dit maak Christus God.

Die nuwe vertaling: “So moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.” Hulle skaal Jesus af – hy mag nie gelyk aan die Vader wees nie, maar die Woord van God sê hy het sy Seun geag om gelyk aan God die Vader te wees.

In 1 Tim 3:6 bevestig God dat Christus God is: “En onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene ¼.” God sê hier ons verkondig God aan die heidene.

Nuwe vertaling: “En dit staan bo alle teespraak dat die geopenbare waarheid van ons godsdiens groot is” (Die Woord van God sê godsaligheid – dit is ‘n goddelike attribuut, en die nuwe vertaling sê “godsdiens” – dit is ‘n term – die Moslems het ‘n godsdiens, die Jehowas het ‘n godsdiens en die Roomse kerk het ‘n godsdiens en as hulle hulle nie bekeer tot God nie, sal hulle met hulle godsdiens en al die verderf tegemoet gaan. So ‘n “godsdiens” is nie wat die Woord van God hier bedoel nie. Nou die res van die gedeelte: “As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het hy verskyn, aan die heidennasies is hy verkondig ¼... en in heerlikheid is hy opgeneem.” Nie een keer het ons gelees van die godheid van Christus in hierdie vers nie. Hy word net bekend gemaak as die mens Jesus.

Kom ons kyk na Joh 3:13: Die Woord van God sê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” Hierdie gesprek vind plaas tussen Jesus en Nikodemus. Eintlik wat die Here hier vir Nikodemus sê is: ‘terwyl Ek met jou praat, is Ek in die hemel – Ek, Nikodemus, is God.’ Die Seun van die mens wat in die hemel is, dit is hy met wie Nikodemus praat, en daarom kom die nuwe vertaling en hy sê: “niemand op die aarde was in die hemel nie behalwe hy wat uit die hemel gekom het naamlik die seun van die mens.” “Wat in die hemel is”, is weggelaat, want dit maak Jesus weer God. Hulle mag dit nie toelaat nie.

Aangesien Hy dan nie vir hulle God is nie, erken hulle Hom ook nie as Verlosser nie. In Luk. 9:56 lees ons juis oor ons Verlosser: “Want die seun van die mens het nie gekom om die mens se lewe te verderf nie, maar te red” Hierdie woorde sal u egter nie vind in die nuwe vertaling nie. Hulle wil hom nie as Verlosser hê nie. Dieselfde gebeur in Matt. 18:11, “Want die seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.” Dit is ook nie daar nie – die vers is weggelaat. As Hy verder ook nie die verlosser is nie, dan het hy sekerlik ook nie vrywillig vir ons gesterf nie. Erken die nuwe vertaling dit? Die Woord van God sê in Sag. 12:10: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal ek uitspreek die Gees van genade en smeking en hulle sal opsien na my vir wie hulle deurboor het”. Die nuwe vertaling sê: “Maar oor die koninghuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het.” Dit is mos ‘n blatante leuen. As die Here Jesus Christus doodgesteek is, dan het Hy nie Sy lewe vrywillig vir ons afgegee nie en die Skrif sê hy lê dit self af – niemand neem dit van Hom af nie. Hy het dit ook weer self opgeneem. Hierdie doodsteek het die evangelie van die nuwe vertaling doodgemaak, want dit plaas hom in dieselfde kategorie as bv. Diana en ander valse Christusse wat self gesterf het. Die Here Jesus Christus het Sy lewe vir ons afgelê. Die Woord van God sê in Joh. 19:30 dat “en toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.” So sê die Woord van God. Hy is nie doodgesteek nie.

Ons wil ten laaste kyk na die bloed van Christus wat so geminag word.

Ps. 22:17 in die Woord van God sê: “Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.” (Hierdie is ‘n vroeë Ou Testamentiese verwysing na die kruisiging wat sou kom). Die nuwe vertaling is ‘n kondisioneringsproses en die bloed kom wel sekere plekke voor, maar hulle minag die bloed oor die algemeen. Hulle is glad nie lief vir die bloed nie, want in Hand. 17:26, Rom. 5:8,9 en Kol. 1:14 sal u ook nie die bloed vind nie. In die gedeelte in Ps. 22:17 het hulle egter drasties gehandel. Hier verklaar die nuwe vertaling: “Hulle bind my hande en voete vas.” na die Wat sê dit vir ons. Dit sê vir ons dat as hulle sy hande en voete vasgebind het, was daar geen bloedvloeiing nie en dit is die bloed wat WAS. So met ander woorde as die nuwe vertaling reg is, dan is daar geen bloed wat ons van ons sondes WAS nie (sien Open. 1:5). Hulle is egter dubbelhartig – hulle kan nie hierdie leuen van hulle deurvoer na die Nuwe Testament nie, want u sien daar wag ‘n Thomas vir hulle en hoe belaglik sou dit nie geklink het as hy sou gesê het, toe die Here Jesus aan hom verskyn het, “Here, wys vir my die brandmerke en die skuurmerke van die toue.” Mag God hulle genadig wees.

Drie-eenheid – Dr. Gaum vra i.v.m. die Jehowa Getuies: “Erken hulle die drie-eenheid.” Hy sê: “Met slim woordomskrywings slaag hulle daarin om bv. die bewyskrag van God van die godheid van Jesus uit die NT te ontneem.” Dit is die Jehowas – Jesus mag nie God wees nie. Doen die nuwe vertaling dit? Ja, presies dieselfde. In 1 Joh 5:7 sê die Woord van God: “Want daar is drie wat getuig in die hemel – die Vader, die Woord, die Heilige Gees en hierdie drie is een.” Dan kom die nuwe vertaling en sê: “Daar is dus drie wat getuig.” Klaar. Die Vader , die Woord en die Heilige Gees is weg, maar hulle doen dit nie net eenkeer nie. In Ps. 33:6 lees ons: “Deur die Woord” (hoofletter) sê die Woord van God, “van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” Die Psalm van die nuwe vertaling sê: “Deur die woord” (kleinletter) weg is Jesus, “van die Here, is die hemele gemaak.” Die Heilige Gees word nie eers genoem nie. Hulle minag die drie-eenheid van God net soos die Jehowa Getuies. Hulle is besig om ‘n monoïstiese god te aanbid, want hulle bybel ontken die Drie-enige God. Die weglating van hierdie woorde uit die nuwe bybel sal veel doen om ‘n godtergende eenheid tussen die ‘Christene’, Jode en Moslems te bewerk.

Prof. Dr. J.J. Muller skryf in sy boek, ‘Die vernaamste sektes in ons land’, die volgende oor die Jehowas: “Hulle bedoeling is duidelik om deur ‘n nuwe en opsetlike veranderde bybelvertaling die gevestigde bybelleerstellings van die Christelike kerk by bybellesende mense in diskrediet te bring en hulle eie ketterye deur die bybel te probeer bewys.” Voorwaar ‘n nuwe wyse waarop satan hom vertoon as ‘n engel van die lig. Hoekom doen die nuwe vertaling dan presies dieselfde, bly die vraag?

As jy ‘n korrupte manuskrip het, sal daar ook ‘n korrupte evangelie daaruit vloei. Jy sal nie soet water uit ‘n bitter fontein haal nie. Die eerste valse evangelie wat die nuwe vertaling verkondig, is die liberale of revolusionêre teologie – die bevrydingsteologie. In wese is dit Marxisme. Dit is in Suid-Afrika bekend gemaak deur Boesak, Tutu en Beyers Naude. Eersgenoemde se verhaal is nou reeds goed bekend. Een van hulle berugte uitsprake was natuurlik dat as die Here Jesus weer kom, kom hy met ‘n AK-47! Waar kry hulle dit? In die nuwe vertaling. Ons lees in Luk. 4:18: “om onderdruktes in vryheid uit te stuur.” Dis nie wat die Woord van God sê nie. Hy het nie vir onderdruktes (polities gesproke) gekom nie. Hy was nooit ‘n politieke verlosser nie – nie vir Israel nie en ook nie vir Suid-Afrika nie. Nee, Hy het gekom om sondaars tot bekering te bring. Om hulle wat geestelik gebroke is deur die swaar juk van die sonde te bevry – dit is ‘n heel ander saak. ‘n Geestelike saak. As God nie deur sy Seun ingegryp het nie, was dit ikabod met ons. Die kondisioneringsproses oor die Christendom is al byna volmaak. U weet die wêreldbiddag vir vroue wat op 1 en 2 Maart 1990 gehou is, met deelname van byna 90 % van die kerke in ons land, het ‘n interessante teksgedeelte as tema gehad. Raai wat dit was? Die teksvers was: Luk. 4:18 – die teks om die bevrydingsteologie te promoveer. En kyk net waar staan ons vandag – die kondisioneringsproses is byna voltooi.

‘n Nuwe vreemde ‘Christelike’ godsdiens vol vernuwings en so meer is reeds met ons. Die nuwe vertaling verkondig ook die New Age teologie. In Matt. 24:8 staan daar: “al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” Dit is eenvoudig ‘n leuen. Die Woord van God sê: “dit is ‘n begin van die smarte.”

Ons het gesê dat die nuwe vertaling die waarheid reeds in sy voorwoord veswyg – oor die datum waarop begin werk is aan die projek. As hy dit in sy voorwoord reeds doen, kan hy ook lieg in sy inhoud. In Open. 14:20 word die afstand van die Dal van Josafat of Megiddo (Armageddon – vergelyk Open. 16:16; 19:19 en Joël 3:1, 2) in die Woord van God aangegee as 200 myl. Dit is tipografies korrek – u kan Israel toe ry en dit afmeet. Die nuwe vertaling kom en sê dit is 1600 km lank. Dit is nie waar nie. Dit is nog ‘n leuen. Uit Num. 23:19 en Titus 1:2 weet ons dat God nie kan lieg nie. Waar kom hierdie dinge dan vandaan? Van die vader van die leuens?

Sedert die nuwe vertaling in 1983 in gebruik geneem is, het talle drastiese veranderinge in Suid-Afrika plaasgevind. Weinig daarvan was ten goede. Aanvanklik het dit gelyk of ons ‘n wonderlike nuwe tyd sou binnegaan, maar in die laaste tye het dinge ernstig begin verkeerd loop. Enigeen wat dit wil ontken, is doelbewus blind. Die nuwe vertaling word nou reeds 16 jaar lank gebruik in die kansel en in uitsendings op SATV en die radio – ook Radio Kansel. Hoe ver het die kondisionering van Suid-Afrikaners reeds gevorder – die kondisionering weg van die waarheid van God se onveranderlike en volmaakte Woord? Is dit enigsins ‘n wonder dat ons nie meer wil opstaan vir God se Woord nie? Is dit enigsins vreemd dat die jeug van ons land so tragies wegsink in die verleidelikhede van hierdie sondige wêreld?

Nog gevaarliker as die nuwe vertaling is die sogenaamde eenjaar bybel wat sy verskyning gemaak het. Die Satan wil baie graag hê dat ‘n kind van God die hele jaar lank aan hierdie boek moet lees, dan sal hy nooit by die Woord van God uitkom nie. Die volgende ding wat hulle gedoen het, is die drie-in-een bybel. Dit word uitgegee deur Olyfberg Uitgewers. In hierdie uitgawe vind ons die standaard of ou vertaling naas die nuwe vertaling en die Engelse New International Version. Hieruit blyk dit dat die ou vertaling die foutiewe een is, want die ander twee bybels stem grootliks ooreen. Dit is egter omdat hulle beide uit dieselfde korrupte manuskripte vertaal is. Laasgenoemde twee kom beide uit die teks van die United Bible Societies – dus die aangepaste teks. Die ware Engelse Bybel wat met die standaard of ou vertaling ooreenstem is die beroemde en pragtige King James Version (1611). Verstommend hoedat die 1933/1953 vertaling op hierdie manier in ‘n slegte lig gestel word vir oningeligte lesers. Onthou Christus het herhaaldelik gewaarsku: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” (Matt. 24:4).

Die Bybels in die swart tale is verder ook aangetas. In die Zulu Bybel is “die Heilige Gees” vertaal met dieselfde woorde wat beteken: “voorvader geeste”! Anders sou hierdie mense dit blykbaar nie kan verstaan nie, word gesê.

Wat sou die motief agter al hierdie dinge wees? Ons lees in die Skrif van twee eenheidsindrome wat in die wêreld nagejaag sal word. Die eerste kom reeds voor in Gen. 11 – natuurlik die toring van Babel. Hier wou die mensdom reeds een word, sodat ‘niks’ vir hulle onmoontlik sou wees nie en om vir hulle ‘n ‘naam’ te maak.

God het dit verpletter, maar die Here sê vir ons dat ‘n koning geëer moet word in sy land en die duiwel is tydelik die koning van hierdie aarde (Matt. 4:8-10; 1 Joh. 5:19) en daar is ongelukkig ‘n tyd wat hy geëer sal word.

Die volgende eenheidsindroom vind ons in Open. 13:8 en nou wil ek vir u die motief verduidelik van waarom daar ‘n nuwe vertaling bestaan: Open. 13:8 sê: “en al die bewoners van die aarde sal hom aanbid” (dit gaan oor die dier – die Antichris – u moet oplet dat God sê AL die bewoners van die aarde) “almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die Boek van die Lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.” So wat het ons hier: God sê almal gaan die Antichris aanbid – dit is die dier – maar kan hulle hom sommer so aanbid?

Nee, daar is ‘n kondisioneringsproses wat moet plaasvind, want aanbidding is ‘n geestelike fasset en voor ons saam kan aanbid, moet daar eers ‘n eenheid wees onder die mensdom soos wat dit was in die dae van Babilon. Ten eerste moet daar eenheid op sekulêre vlak wees en daarom het ons hierdie strominge regoor die wêreld – bewegings na eenheid – daar mag nie meer nasionalisme of nasionaliteit wees nie en die proses het reeds ver gevorder. Die tweede ding wat moet plaasvind is dat daar een staatsbestel wêreldwyd moet wees. In Europa het die Europese Unie reeds tot stand gekom en die Verenigde Nasies is reeds gevestig. Natuurlik sal een geldstelsel ook vinnig volg. Dit is aan die kom – ons is vyf voor twaalf op God se horlosie; dit gebeur reg om ons en in Afrika sal daar nog ‘n federasie van state wees, waarvan die O.A.E. alreeds vir ons ‘n aanduiding is. Eers moet die skanse afgebreek word voor almal die dier of Antichris sal aanbid. As ons hierdie tendens eers op sekulêre vlak het, dan is eenheid op geestelike vlak nie meer ver nie. Op hierdie stadium is dit op kerklike vlak van absolute kardinale belang om ‘n eenheid daargestel te kry. Die ekumeniese beweging oppad terug na Rome is volstoom in swang. In Asissi, Italië, (waar Francis van Asissi woonagtig was) is daar al drie keer deur al die wêreld se gelowe saamgebid. Die Pous het dit gereël en in 1986 het dit ‘n ‘hoogtepunt’ bereik toe slangaanbidders, toordokters en al wat ‘n godsdiens is saam met selfs ‘protestante’ aanbid het vir wêreldvrede. Kan ‘n man wat olifante aanbid, saam met iemand wat voorvadergeeste aanroep en weer ander wat in die Christus van die Bybel glo, aanbid? Aanbid almal op aarde dan maar dieselfde god? Of is hierdie god maar bloot “die god van hierdie wêreld”? (2 Kor. 4:4). Is dit nie dalk oor hierdie rede dat die mensdom uiteindelik een bybel of gesamentlike heilige geskrif gaan benodig nie?

(Sien Bylae C oor die eienaardige ‘heilige geskrif’ met die naam World Scripture wat reeds saamgestel is en ook Bylae D vir meer oor die nuwe wêreldorde wat tans voor ons oë gestalte kry).

Die mens is geneig om te sê dat God die bewaarder van Sy Woord is – dit is so, maar hoekom was daar vir die laaste 30 tot 40 jaar so ‘n geweldige tekort aan Bybels in Rusland, Romenië, Albanië, Tsjeggoslowakye ens. Is dit nie omdat hierdie nasies in die welaangename tyd nie die Woord van God in hulle midde bewaar het nie? As ons nie opstaan vir God se ware Woord nie, sal God dalk sy Bybel bewaar, maar moontlik in Ysland of elders. Ons sal sy ware Woord verloor en sal ons dit ooit weer kan terugvind?

Amptelike Bybelgenootskap syfers:

In 1983 versprei die Woord van God (1933/1953 vertaling) 210 933 eksemplare in een jaar.

In 1984 val hierdie syfer na 98 481. In die ooreenstemmende tydperk: Nuwe vertaling (1983) – 573 088 eksemplare is verkoop.

Vanaf 1933 tot en met vandag het die Woord van God in hierdie land van ons nog nooit daardie syfers in een jaar behaal nie, maar die nuwe vertaling kom uit en doen dit in die eerste jaar! Iemand maak groot geld uit die bybel.

In 1988, staan die verkope van die Woord van God (standaard of ou vertaling) al op 53 573 en in 1990 se verslag word die syfers aangegee as 42 900. Ek vra: Hoe lank sal ons nog die Woord van God in ons midde hê as ons ons nie begin ywer vir God se saak nie. Mag God ons in hierdie dae opwek vir sy saak, vir sy Woord. Laat ons tot God bid en sê: “Here, kom plaas in my hart ‘n ywer vir u Woord”.

Hoofkeuselys | Die WOORD aan die woord | Verskille tussen 1983 en 1953/1933 vertalings